Rekordhouer druk steeds drieë ná skedelbreuk

Saam met sy vrou, Rozanne. Foto: Verskaf.

Berty Visser is vínnig. Soos wat Naas Botha gereeld gesê het: Daar is g’n plaasvervanger vir spoed nie. En Visser het hope daarvan.

Hy is die voormalige rekordhouer vir die vinnigste professionele drie in Suid-Afrika. Dit het hom in 2012 nege sekondes (vandat die wedstryd afgeskop het) geneem om ’n drie in sy Luiperd-trui te druk.

Sy rekord het vier jaar gestaan, voor dit deur die Leeus se Lourens Erasmus oortref is. Dit het die Johannesburgse slot 8,5 sekondes geneem om sy drie teen die Pumas te druk.

Visser – wat op ’n tyd in die Blitsbokke se visier was – het daarna sy rugby vir Impala in Rustenburg gespeel.

In 2014 – gedurende ’n Gold Cup-kragmeting vir die Rustenburgers – het hy ’n ernstige besering opgedoen. Daar is vermoed dat hy sy oogbank gekraak het. Gelukkig was daar ’n dokter by die veld en Visser is hospitaal toe gejaag.

“Dáár was die medici bekommerd dat die muur van my skedel – wat aan my brein se kant sit – gekraak is en hulle het dadelik x-strale geneem.”

Die x-strale het gewys dat die muur wat by sy sinus sit, gekraak is.

Ná die operasie het hy 54 krammetjies in sy skedel gehad. Foto: Verskaf.

“’n Operasie is gedoen waar hulle my op my haarlyn van oor tot oor oopgesny het, die breuk en kraak reggemaak en toe weer toegemaak het. Ek het 54 krammetjies in my kop gehad.”

Hy het eers weer sy terugkeer in 2017 op die rugbyveld gemaak.

“Ek was toe besig om my loopbaan as onderwyser te begin en kon meer tyd en aandag daaraan afstaan. Ek was ook verloof tydens die besering en sy het – saam met my familie – my gemotiveer en ondersteun gedurende die herstelproses.”

Was hy skrikkerig om weer te speel?

“Om eerlik te wees, ek was meer bekommerd oor my fiksheid as oor simpel beserings; soos om byvoorbeeld my dyspier te verrek,” het hy laggend gesê.

Visser speel deesdae vir Sasol Rugbyklub in Secunda en hulle het pas van hul Gold Cup-veldtog teruggekeer.

“Secunda het ’n reuse-omkeer gemaak sedert Werries (Joubert van Survivor-faam) betrokke geraak het. Die klub se atmosfeer verskil baie van die meeste ander klubs, bloot omdat ons almal daar is vir mekaar. Ons leuse is Sasol Heart en dit sluit die waardes in waarvoor ons staan.”

“Dan oefen ons ook kliphard!” het hy bygevoeg.

Hy vertel dat hy tans ander toekomsplanne het (buiten rugby) wat sy aandag verg.

Hy is steeds besig om drieë vir Sasol te druk. Foto: Verskaf.

“Ek sou graag die Gold Cup wou wen voor ek uit die sport getree het, maar ek het genoeg mylpale bereik om tevrede met my loopbaan te wees.”

Tog sal Visser se gawes nie verlore vir sport wees nie.

“Ek wil baie graag ná ek my rugbyloopbaan afgesluit het, aanhou oefen om oor so vier jaar aan die Meesters-atletiekreeks deel te neem. Die droom is om Suid-Afrika in oorsese byeenkomste in die 100 m en 200 m te verteenwoordig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Helena ·

Hierdie is n pragtige jongman. Hy is baie nederig en weet waar sy hulp vandaan kom. Hy en my dogter saam gehardloop en hulle land verteenwoordig. Hy is regtig n ware kampioen.

Swartwolf ·

Stormers kan doen met meer spoed veral op die vleuels dalk sal hul meer driee druk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.