Roeimasjien maak CrossFitters moeg

CrossFitters wat aan 19.1 deelgeneem het, het deeglik kennis met ’n roeimasjien gemaak. Foto: CrossFit Mayhem-twitter.

Meer as 400 000 CrossFitters wêreldwyd het Vrydag met die eerste oefeninguitdaging van die jaarlikse CrossFit Ope begin.

En een ding is seker: ná dese is ’n roeimasjien niemand se maat nie!

Dave Castro en sy span ringkoppe van CrossFit se hoofkwartier het beslis dat Ope-deelnemers so veel as moontlik rondes van 19 wall balls en 19 kalorieë op die roeier moet kafdraf.

Adam Klink en Matt Morton van die VSA se gimnasiums het elk 398 repetisies gedoen, maar party plaaslike deelnemers het dalk té vinnig begin roei.

Rich Froning van CrossFit Mayhem, en vir vier agtereenvolgende jare die wêreld se fiksste man, het juis vooraf gesê dat asemhaling belangrik is en dat jy nie soos ’n vetgesmeerde blits met dié uitdaging moet wegspring nie.

Leonie Coetzee van Upington Crossfit se seuntjie glo dat sy die vinnigste roeier ter wêreld is! Foto: verskaf.

“Vir my was die fiksheidsaspek baie erg; mens moet mooi op jou asemhaling konsentreer. Ek het nie! Hier by ronde vier het ek uit die bus begin val: my wall balls is in sarsies van drie op ’n slag gedoen en op die roeimasjien het dit vir ewig geneem om na die volgende kalorie oor te slaan,” sê Upington CrossFit se Leonie Coetzee.

Haar roei-fobie is deur CrossFit Artaxes se Talita van Rooyen beaam. “Hier by ronde drie het ek al die hemelpoorte sien naderkom; kardio is nooit lekker nie!”

Tog sien hulle uit na 19.2, wat Vrydag aangekondig word. “Ek kan nie wag nie! Ek is juis nie tevrede met my 19.1 nie, al het ek op laas jaar se openingsronde verbeter. Van nou af wil ek elke WOD twee keer aanpak om seker te maak dat ek my beste poging gegee het,” sê Coetzee.

Op haar beurt hoop Van Rooyen dat hulle bietjie gewigte sal kan rondgooi.

“Ek hoop 19.2 konsentreer meer op tegniek!”

Toppresteerders (wêreldwyd):

  • Talita van Rooyen besig met ’n sarsie wall balls. Foto: verskaf.

    Mans:

  1. Adam Klink (398 repetisies)
  2. Matt Morton (398 repetisies)
  3. Sam Kemp (393 repetisies)
  4. Steven O’ Brien (390 repetisies)
  5. Mike Brown (389 repetisies)

 

  • Vroue:
  1. Olivia Leeper (371 repetisies)
  2. Abigail Graham (345 repetisies)
  3. Lucy Campbell (344 repetisies)
  4. Jamie Sobelewski (343 repetisies)
  5. Sara Hendershot (340 repetisies)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Afrikaner ·

Ek neem aan dit staan in Afrikaans as oorkruisfiksheid bekend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.