ʼn Mens kan nie jonges keer om oorsee te gaan

Jurie Roux – uittog kry die skuld. (Foto: Twitter)

Hoe kan ʼn mens ʼn stokkie daarvoor steek as al hoe meer Suid-Afrikaners in Europa, of in Japan, wil gaan rugby speel?

Jurie Roux, die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rubyunie (Saru), sê in die jongste uitgawe van die gesaghebbende tydskrif Rugby World dat hy baie bekommerd is oor die uittog van Suid-Afrikaanse spelers. Roux sê dat daar verlede jaar 373 Suid-Afrikaners beroepsrugby in Europa gespeel het en dat daar al hoe meer jag gemaak word op jong spelers.

Roux merk tereg op dat die meeste lande sal sukkel as daar soveel van hul beste spelers oorsee uitwyk.

Dis presies wat met die Suidsee-eilande gebeur. Daar speel tussen 600 en 700 van hul voorste spelers in Europa, en wat nog van die hordes en hordes in Nieu-Seeland en Australië?

Dis hoekom Fidji, Samoa en Tonga nooit ʼn werklike krag in vyftienmanrugby sal word nie. Is dit nie die paadjie wat Springbokrugby volg nie?

Maar hoe kan ʼn mens dit keer?

Jy kan nie, want hoe kan jy enige talentvolle jong speler daarvan weerhou om oorsee sy brood en botter te gaan verdien as daar nie genoeg geleenthede in sy eie land is nie en as hy twee en selfs drie keer meer oorsee kan verdien?

En dan praat ons nie eens van transformasieteikens wat niemand anders nie as die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) ingestel het?

Hoe kan jy genoeg geleenthede vir al die spelers gee as die finansiële kraantjie toegedraai is, as die kleiner bonde se begrotings tot R7 miljoen per jaar gesny is, as die Curriebekereeks al hoe meer verwater raak en dalk net oor een ronde beslis gaan word?

Nadat die Superrugbymat onder die Cheetahs en Southern Kings gepluk is, is daar nuwe deure in die Pro14-reeks oopgemaak en ja, die Pumas en Griekwas sal na alle waarskynlikheid in die Anglo-Walliese Bekerreeks, en dalk nog in ʼn Amerikaanse reeks meeding. Maar hoe gaan ʼn mens verhinder dat die spelers binne ʼn seisoen uitbrand?

Elke jaar verskyn daar boonop ʼn verdere 200 jong spelers op die voerband, wat byna reeds vol is.

Dis hoekom daar oorsee gegaan word, terwyl dit nog moontlik is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

bloues ·

SA Rugby, wees eerlik met julself. Goeie en selfs die beste jong spelers weet dat die bokke net uit swart spelers gaan bestaan oor n jaar of wat. So hoekom hul tyd hier mors terwyl hulle oorsee kan gaan en sukses maak van hul loopbaan. Alles gaan nie vir die mense net oor geld nie maar oor ‘n toekoms in rugby.

Henk ·

Roux, AS jy die eerbare ding doen en loop (wat ek betwyfel want jy het jouself in ‘n magsposisie geplaas ala Zuma), EN die topstruktuur doen afstand van hul buitensporige salarisse, bonusse en voordele soos reis en verblyf, dan sal daar geld wees om speler te betaal.

Klubspeler ·

Na rugby profisioneel geraak het het wedstryd geld na amper 20 jaar se gelde selfde gebly. Dek nie eers die manne se petrol geld na oefening of wedstryd toe nie, wat nog van die versnapperringtjie na harde wedstryd? En dan word klubs net nog minder en minder.

Many moons ago was die klubs die voedingsaar van SA rugby, en vandag is dit skole. Nie almal is Naas wat nog nat agter die ore was en vir soveel jare nagmerries vir ander spanne kon gee nie. Noem hulle maar op, Lambie, Pollard, Jantjies en kie, speel 1 of 2 goeie games en dan res van seisoen beteken hulle nul op n kontrak?

Begin onder reg dan daar dalk weer toekoms om wen toetse te speel teen Japan, Wallis en Ierland

Nico K ·

Transformasie is nie die rede hoekom mense oorsee gaan nie. Dis net geld. En daar is niks daar mee fout nie. Maar wees eerlik, daar is 273 spelers oorsee. Van daardie getal is daar hoogstens 30 wat kan springbok speel. Die res sou sonder kwotas nog steeds nooit springbok gespeel het nie. Fidji en Samoa se spelers gaan nie oorsee a.g.v. kwotas nie. In sokker bestaan hierdie probleem nie. Daar speel al die beste spelers nie in hul eie land klubsokker nie. Maar as dit wêreldbeker is dan word hulle vir hul land gekies. Ek dink een rede is dat die groot geld in sokker by die klubs lê en nie by internasionale spanne nie. Die groot voordeel daarin is dat daar kan 300 spelers baie geld verdien in klubs. In teenstelling met die 30 wat gekies sal word om sy land te verteenwoordig. Ons sal in die toekoms moet vergeet daarvan om net plaaslike spelers te kies vir die Springbokke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.