ʼn Toets buite die toetsgleuf? Wie gee om?

Wanneer die rieme styfgetrek word, wanneer die geldwolf op die voordeur begin uitkamp, moet daar sekerlik planne beraam word om dit te systap.

Dis sekerlik die hoofrede waarom Saterdag se toets tussen die Springbokke teen Wallis in Cardiff buite Wêreldrugby se toetsgleuf gespeel word.

Die All Blacks is ná Sondagaand se toekenningsaand in Monte Carlo op pad huis toe ná hul Europese toer, só ook die Wallabies en die Argentynse Poemas, maar die Bokke bly ʼn week langer aan, pas vir oulaas nog ʼn toets in.

Albei spanne gaan verswak wees, omdat van hul beste spelers nie beskikbaar is nie omdat hulle vir hul oorsese klubs moet speel.

Die Bokke moet sonder Duane Vermeulen (Toulon, 39 toetse), Francois Louw (Bath, 57 toetse) en Franco Mostert (Ricoh Black Rams, 18 toetse) klaarkom, maar Elton Jantjies se Japanse klub, die NTT Shining Arcs, het (ongelukkig, sou baie mense sê) toestemming gegee dat hy by die Bokke kan agterbly.

Wallis is in dieselfde bootjie, want hulle sal sonder Liam Williams (Saracens), Owen Williams (Gloucester), Toby Faletau (Bath), Jamie Roberts (Harlequins ), Tomas Francis (Exeter Chiefs) en Rhys Priestland (Bath) moet klaarkom.

Gestroop van ervaring en hul topspelers.

Maar wie gee om, want die Millennium-stadion (hulle noem dit nou die Principality-stadion … nog meer note in die geldlaai) sal na waarskynlikheid gepak wees.

Die Walliesers het die boerpot geslaan, want hulle speel binne die bestek van ʼn maand teen die All Blacks, die Wallabies en die Bokke. Dan het hulle ook tussendeur ʼn toets teen Georgië ingepas.

Die Bokke kon dalk in sekere kringe hul aansien verloor het, maar vir die oorsese lande is hulle steeds kroonwild, deel van die Groot Vyf, wat platgetrek moet word.

Dis hoekom hulle nog ʼn toets ingepas het, nog ’n bietjie room kan afskep – ek hoop net dat die Suid-Afrikaanse rugbybase ook daarin deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

wesley ·

Pieter, jy praat in een berig oor diegene wat die beste vir rugby op hul harte dra in een berig (Nog n taai dwarsklap…), en dan praat jy weer van “room afskep” die volgende. Hierdie laaste toets beweeg teen die grein van n goeie ding vir rugby self, spelers word in die grond gery vir nog n geldmakery. Van wanneer maak enige iemand goeie rugby-besluite wanneer geld betrokke is? Stransky was reg, alhoewel ek self bly is ons het nie die bod gekry nie, n goeie rugby besluit om die spel te groei sou beter vir Ierland gewees het dalk. Dit is n “old boys club”, wat hul nes-eiertjies wil optof vir hul aftredes en “golden handshakes”. Die Franse het net note rondgeswaai, en almal het geval daarvoor. Nes wieookal besluit het op n toets teen Wallis so laat in die jaar. Die beursie moet BULT!

Daniël ·

Wesley, is jy werklik bekommerd dat hierdie toets “beweeg teen die grein van ‘n goeie ding vir rugby self” of is jy veel eerder benoud dat jou span ‘n uitstekende kans staan om nogmaals naam weg te gooi? Die arme spelers is heeltemal oorbetaal gegewe die werk wat hulle op die veld doen…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.