Rugby-afrigter sterf ná valskermswewers bots

Greig Oliver (Foto: Lions/Twitter)

Greig Oliver (58), rugby-afrigter van Munster, Ierland, is Maandagmiddag dood nadat twee tandem-valskermsweeftuie in Seepunt, Kaapstad, gebots het.

Oliver was ’n passasier van een van die sweeftuie.

Volgens Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), is verskeie nooddienswerkers om 16:28 na die promenade ontbied waar die ongeluk gebeur het.

“Dit lyk of die twee valskermswerwers in die lug bo die promenade gebots het. Een van die sweeftuie het veilig geland en die vlieënier en passasier was ongedeerd,” sê Lambinon.

“Die tweede sweeftuig het tydens die ongeluk ’n tweede valskerm ontplooi en het tussen 200 m en 300 m ver in die see geland.”

(Foto: Paul Jacobson/Facebook)

Met nooddienswerkers se aankoms op die toneel het hulle die manlike vlieënier van die tweede sweeftuig naby die promenade aangetref. Hy is vir geringe beserings behandel.

Die passasier van dié sweeftuig, wat later as Oliver geïdentifiseer is, is op die rotse by die promenade aangetref.

“NSRI-reddingwerkers het die man van die sweeftuig se toerusting bevry en probeer bybring. Paramedici het lank kardiopulmonêre resussitasie (CPR) gedoen, maar sonder enige sukses. Hy is later dood verklaar.”

Oliver se liggaam is aan die forensiese patologiediens oorhandig en die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

(Foto: Paul Jacobson/Facebook)

Volgens Wêreldrugby het Oliver in 1987 aan die eerste Wêreldbeker-rugbytoernooi as ’n rugbyspeler vir Skotland deelgeneem voordat hy aansien as ’n talentvolle afrigter in Ierland verwerf het.

Oliver se seun is die skrumskakel van die o. 20-rugbyspan van Ierland, Jack Oliver.

Sir Bill Beaumont, voorsitter van Wêreldrugby, het namens Wêreldrugby en die wêreldrugbyfamilie sy medelye aan die Oliver-familie betuig.

“Al die spelers by die Wêreldrugby o. 20-kampioenskap staan in solidariteit met Jack, sy spanmaats en die Oliver-familie. ʼn Oomblik se stilte sal Dinsdag voor al die wedstryde as eerbetoon gehandhaaf word. Ons het ook ons volle ondersteuning aan die Ierland-span in Suid-Afrika gebied,” sê Beaumont.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Skappie ·

Innige meegevoel aan sy gesin en almal wat hom geken het. Mag onse Liewe Heer julle styf vashou in hierdie moeilike tyd wat vir julle voorle.

Delia ·

Nee man julle. Ai, ek kry n afduim oor ek n vraag vra. Ek wil steeds weet?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.