19 – 17: Stormers wen in die Kaap

Hacjivah Dayimani op pad na die doellyn. Foto: Hansie Linde.

Wanneer twee sterk Suid-Afrikaanse spanne mekaar op die rugbyveld aanvat, kan jy maar altyd ’n taai stryd verwag.

En dit is presies wat vandag in Kaapstad gebeur het toe die Stormers die Bulls met 19 – 17 in ’n Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd geklop het.

Die eindtelling was eintlik heel gepas: In 1917 was loopgraaf-oorlogvoering immers aan die orde van die dag en bevelvoerders het nie sommer kanse gewaag nie.

Dieselfde kan vir die grootste gedeelte van vandag se eerste helfte gesê word: Daar is geskop, getêkkel, op die aanval gehuiwer en aangeslaan en dit het aanvanklik gelyk of Zak Burger en Canan Moodie (al twee Bulls-spelers) se lopies die hoogtepunt van die eerste 40 minute sou wees.

Evan Roos loop sy rieme styf. Foto: Hansie Linde.

Maar die Stormers se Hacjivah Dayimani het teen die verloop van spel – en ná die sirene reeds vir rustyd geloei het – deurgebars om die eerste drie van die wedstryd te druk.

Teen rustyd het die Kapenaars ’n voorsprong van 10 – 3 geniet.

In die tweede helfte het die Bulls so te sê onmiddellik met Moodie se drie teruggeslaan, maar Manie Libbok (’n rits strafskoppe) en Damian Willemse ( ’n skepskop) se skopvoet het die tuisspan se neuse voor op die telbord gehou.

Dit is totdat Kurt-Lee Arendse sy vaardighede ten toon gestel het en die Kapenaars se verdediging aan’t flarde gehardloop het.

Foto: Hansie Linde.

Dayimani se desperate (en hoë) duikslag het hom egter in die spoor gestuit, maar Ruan Nortjé het die beweging met ’n drie afgerond.

Of so het die meeste Bulls-ondersteuners gedink.

Ná ’n kajuitraadsessie van ’n hele paar minute het die skeidsregterspan beslis dat Arendse die bal aangeslaan het en dat Dayimani homself aan ’n geelkaartoortreding skuldig gemaak het.

Net ’n rukkie vantevore het Nortjé se drie nog gestaan en dit het gelyk of die veglustige Dayimani skotvry van die duikslag-onderonsie sou kom.

Maar hoe dit ookal sy, daar is ’n strafskop aan die Bulls toegeken en Elrigh Louw het onder die pale gaan druk.

Die Kapenaars kon vir die laaste paar minute uithou om die wedstryd met twee punte te wen. Hulle het immers beter gespeel.

En Dayimani?

“Ek het aanvanklik gedink dat dit ’n rooi kaart gaan wees,” het hy gesê toe hy die speler van die wedstryd-toekenning in ontvangs geneem het.

“Vir die laaste twee weke was ek maar stillerig op die veld en ek is bly ek kon vandag weer op meer suiers vuur.”

  • Puntemakers:

Stormers: Drie: Hacjivah Dayimani. Doelskop: Manie Libbok. Strafskoppe: Libbok (3). Skepskop: Damian Willemse.

Bulls: Drieë: Canan Moodie en Elrigh Louw. Doelskoppe: Chris Smith en Morné Steyn. Strafskop: Chris Smith.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.