19 in ’n ry vir Blitsbokke

Die Blitsbokke het agt drieë teen Japan gedruk. Foto: Twitter.

Die Blitsbokke se resep vir sewessukses is eintlik doodeenvoudig: Hulle hou net aan om te wen en verloor nie sommer enige van hul momentum nie.

Neil Powell se span het sopas verspotmaklik met Japan in Dubai klaargespeel om die kragmeting met 48 – 0 te wen.

Die was die Suid-Afrikaners se 19de agtereenvolgende oorwinning; daarteenoor was dit Japan se 19de agtereenvolgende nederlaag.

En die span uit Asië het omtrent harde bene gekou.

’n Veglustige Impi Visser het binne die eerste minuut van die wedstryd langs die kantlyn af gehardloop om die Suid-Afrikaners se driedrukrekening te open.

’n Kort rukkie daarna het Selvyn Davids sy spierkrag op die groot verhoog uitgestal toe vier Japanse spelers vir ’n minuut lank gespook en gespartel het om die bal by hom af te neem.

Die uiteinde van hul gestoeiery?

JC Pretorius duik oor vir die Blitse se tweede drie.

Teen rustyd het die Suid-Afrikaners ’n voorsprong van 24 – 0 geniet en hulle het hul telling in die tweede helfte verdubbel.

Die Blitsbokke het balle by die afbreekpunte gesteel, hulle het gate deur die Japanse verdediging gehardloop en hul aangeewerk was uit die boonste rakke. Kortom, hulle laat sewesrugby lekker lyk.

Hoewel ’n mens in sport nooit te vroeg moet praat nie, lyk die Blitsbokke (weer eens) baie gevaarlik en die silwerware wink (weer eens) vir hulle.

Blitsbok-drieë: Impi Visser, JC Pretorius, Shilton van Wyk, Shakes Soyizwapi, Zain Davids, Selvyn Davids, Ronald Brown en Shaun Williams.

Bepalings vir die res van die dag:

13:04 teen Ierland

18:33 teen Groot-Brittanje.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Leon ·

Wel meeste van die ander sterk spanne speel nie saam nie – so 19 is nou nie so wonderlike prestasie nie. Sou beter wees as hul in die olimpiese spele kon presteer toe dit saakmaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.