1956-sege op Nuweland was Natal se eindstryd-paspoort

Peter Taylor het Natal in 1956 in hul eerste Curriebeker-eindstryd aangevoer nadat hulle die WP in die uitspeelwedstryd geklop het. (Foto: Argief)

Natal, wat in 1956 in sy eerste Curriebeker-eindstryd in die doodsnikke met 8-9 teen Noord-Transvaal verloor het, moes in sy heel eerste uitspeelwedstryd die Westelike Provinsie op Nuweland klop om die eindstryd te haal.

Sedertdien het hierdie twee spanne, wat mekaar Saterdag in die Curriebeker-eindstryd op Nuweland pak, reeds in drie uitspeel- of halfeindwedstryde, en in agt eindstryde om die Goue Beker, teen mekaar gespeel.

Die Natallers van Peter Taylor het in 1956 in daardie uitspeelwedstryd op Nuweland die WP in ʼn destydse rugbyskok met 11-10 geklop, na die eindstryd deurgedring, en toe teen Noord-Transvaal op die Kingsmead-krieketveld in reënweer met 8-9 verloor.

Dit was eers 26 jaar later, in 1982, dat Natal en die WP weer in ʼn uitspeelstryd om die Curriebeker betrokke sou wees. Wéér was dit op Nuweland, maar dié keer het die WP gemaklik met 47-18 gewen.

Die volgende jaar, nou op Kingspark, het die WP met 7-3 gewen.

In 1984, in slegs sy tweede eindstryd, het Natal ook teen die WP gespeel. (Die omstandighede oor hoe die Piesangboere die eindstryd gehaal het, is Woensdag op Maroela Media se sportbladsye weergegee.)

Dit was in 1990, in sy 100ste bestaansjaar en 34 jaar ná sy eerste eindstryd in 1956, dat Natal uiteindelik die Goue Beker kon vashou nadat hy Noord-Transvaal met 18-12 op Loftus geklop het.

Dit was die deurbraak. Natal, wat onder die afrigter Ian McIntosh sy pak versterk en die regte spelers in die regte posisies van elders verkry het, het in 1992 weer die Goue Beker in die eindstryd teen Transvaal gewen.

Dit was in 1995 eers weer Natal teen die WP met Natal wat die Curriebeker-eindstryd met 25-17 gewen het.

In 2000 het die WP die eindstryd in Durban met 25-15 teen die Sharks gewen en die jaar daarna met 29-24 op Nuweland teen die Sharks geseëvier.

Nege jaar het verloop tot hul volgende kragmeting in die 2010-eindstryd op Kingspark wat met 30-10 deur die Sharks gewen is, maar die WP het in 2012, ook in Durban, met 25-18 gewen voordat hulle in 2013 op Nuweland met 19-33 pak gekry het.

Verlede jaar het die WP met 33-21 in die Durbanse eindstryd gewen.

Westelike Provinsie vs Sharks ‒

Halfeind- en uitspeelwedstryde (tuisspan eerste)

1956    WP 10, Natal 11
1982    WP 47, Natal 18
1983    Natal 3, WP 7

Eindwedstryde (tuisspan eerste)

1984    WP 19, Natal 9
1995    Natal 25, WP 17
2000   Sharks 15 WP 25
2001    WP 29 Sharks 24
2010    Sharks 30, WP 10
2012    Sharks 18, WP 25
2013    WP 19 Sharks 33
2017    Sharks 21, WP 33

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.