Aanhouer wen, al neem dit jare lank

Geduld is een van daardie woorde waarmee ons nie baie geduld het nie.

Ons is ongeduldig, ons lewe is gejaag en ons soek kitsoplossings, ons kan nie wag vir dinge om te gebeur nie.

Waar was die dae toe ons deurnag vir toetskaartjies tou gestaan het, toe ons  op Vrydag- en Saterdagaande ure lank in ʼn lang ry by die inryteater gewag het, net om duskant by die hek uit te vind dat die eerste vertoning vol is … en toe maar vir die tweede vertoning gewag het.

Waaroor het ons ure lank met mekaar gesels, sonder selfone en sakrekenaars?

Dalk moet ʼn mens ʼn lessie uit die handboek van die Crusaders se losskakel Richie Mo’unga neem, wat in die All Black-span ingesluit is vir Saterdag se Bledisloetoets teen die Wallabies in Brisbane.

Mo’unga, wat een van die begaafdste spelers op hoërskool was en drie jaar vir St. Andrews in Christchurch se eerste span gespeel het (en ook die kaptein was), speel reeds van 2013 in die ou ITM-bekerreeks vir Canterbury. Hy was ook in 2014 in die All Blacks-span wat in die o.20- Wêreldkampioenskap-toernooi in Frankryk gespeel het.

Maar voor hom in die Canterbury-ry was Dan Carter, en Colin Slade, en Tom Marshall … al drie All Blacks. En dan was Aaron Cruden van die Chiefs ook nog daar.

Maar Mo’unga het sy kans geduldig afgewag, en hy het nie groener weivelde gaan soek nie.

Eers is Carter toe na Parys toe waar hy vir Racing 92 speel, toe volg Slade nadat hy ʼn kontrak by Pau in Frankryk onderteken het voordat Marshall na Gloucester in Engeland gelok is. Vroeër vanjaar het Cruden die pad na Montpellier in Frankryk gevat.

Maar steeds was daar nie ʼn plek vir Mo’unga nie, want Beauden Barrett en Lima Sopoaga het na vore getree.

Mo’unga se lang wag is egter verby, want Barrett word in watte toegedraai nadat hy op Nuweland teen die Bokke ‘n stamp teen die kop opgedoen het.

Nou is Mo’unga op die drumpel van sy droom.

All Blacks se groep –

Voorspelers:  Wyatt Crockett, Kane Hames, Nepo Laulala, Jeff Toomaga-Allen, Ofa Tu’ungafasi, Dane Coles, Nathan Harris, Codie Taylor, Scott Barrett, Patrick Tuipulotu, Sam Whitelock, Sam Cane, Vaea Fifita, Jerome Kaino, Kieran Read (kaptein), Ardie Savea, Liam Squire, Matt Todd.

Agterspelers: Tawera Kerr-Barlow, TJ Perenara, Aaron Smith, Beauden Barrett, Richie Mo’unga, Lima Sopoaga, Ryan Crotty, Ngani Laumape, Anton Lienert-Brown, Sonny Bill Williams, Rieko Ioane, Waisake Naholo, David Havili, Damian McKenzie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.