Aanval is die antwoord

 

Leeus-vs-Sharks-18Okt14-GBJordaan-001.jpg

`n Drie vir die Goue Leeus se Ross Cronje

Dis die beste aanvallers en nie die beste verdedigers nie wat Superugby wen, is die slotsom waartoe die gerekende tydskrif Rugby World kom ná `n ontleding van die afgelope 19 reekse.

Dit kom dalk as `n skok vir die plaaslike geloof dat verdediging die sleutel tot oorwinning is, maar die blad toon aan dat die beste verdediger nog net vier keer die titel gewen het – en hulle was elke keer ook die beste aanvaller van die seisoen.

Van die drie keer dat die Bulls die die titel gewen het was hulle twee keer die beste aanvaller (2007 en 2010), maar is as verdediger derde en negende geplaas. Die derde slag (2009) was hulle derde as aanvaller en sewende as verdediger.

(Die verskille in kleure in die tabel hieronder dui op Super12 in die ligste blou, dan Super14 en toe die Superreeks met 15 spanne in die donkerste van die drie blou stroke)

superrugby-champions

Superrugby kampioenskap. Bron: Rugby World

Die beste aanvaller het 14 uit die 19 keer die reeks gewen en elke wenner was minstens onder die eerste vier aanvallers. Agt van die wenners was sesde of swakker wat verdediging betref.

Die gemiddelde verdedigingsplasing vir die Europese Pro12-wenners is 2.3, vir wenners van die Engelse Premierliga 2.7 en vir die Franse Top14 3.1. In Superugby is die gemiddeld 4.6, met die naasbeste op 3.1.

Rugby World sê dit gons in die Premierliga oor `n “gelyke speelveld” met finansiële ewekansigheid. `n Regverdige mededinging sluit ook tuis- en wegwedstryde in. Laasgenoemde bestaan nie in die Superreeks nie, en die loting speel `n aanmerklike rol.

Die Crusaders was deurlopend een van die spanne wat die meeste punte in die reeks behaal het en was in 16 gevalle onder die drie beste aanvallers. Hulle was nog elke jaar sedert 2002 in die halfeindstryd betrokke en het verlede jaar in die eindstryd met `n enkele punt teen die Waratahs verloor. Hulle moet gewis weer vanjaar `n gunsteling wees. Dis egter belangrik om daarop te wys dat die gemiddelde plasing van hul teenstanders in wegwedstryde in 2014 10.3 was. Op papier was dit die maklikste en dit blyk ook dat hulle ses uit hul agt toerwedstryde gewen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.