Aanval is ʼn afrigter se beste verdediging

Franco Smith (Foto: YouTube)

Rugbyafrigters hou nie daarvan om op hul foute gewys te word nie.

Dis menslik. Maar afrigters begaan ook foute, en as jou span met 57-0 afgeransel word, moet jy kan bontstaan, systap en die hoë balle vang.

Dit was dus nie ʼn verrassing toe die Bokke se agterlynafrigter, Franco Smith, vir die agterste driehoek van die Springbokke in die bresse getree het nie.

Smith-hulle bestee ure en ure op die oefenveld om die spelers se vaardighede op te knap en te verbeter, maar as dit by Saterdag kom, kan jy niks meer daaraan doen nie.

Volgens Smith is dit net ʼn persepsie dat die agterste driehoek (Andries Coetzee, Raymond Rhule en Courtnall Skosan) sukkel,  want as jy gaan kyk hoeveel balle ander spanne aanslaan, asook vorige  Bokspanne, is daar nie juis ʼn verskil nie.

Dit het my laat terugdink toe die Bokke in 1998 op die kruin van die golf was en op pad was om die All Blacks se wêreldrekord van 17 opeenvolgende oorwinnings op die toer aan die einde van die jaar  te verbeter.

Smith (binnesenter) was in die opdrafspan wat Wallis met  28-20 geklop het om hul 15de oorwinning te behaal.

Maar die Bokafrigter, Nick Mallett, het hom vir die volgende toets teen Skotland (tot ons groot verbasing) uit die span gelaat en voorkeur aan Christian Stewart gegee. Die Bokke het met 35-10 gewen, maar die Skotse losskakel, Duncan Hodge, het een of twee keer op Stewart afgepyl en verby hom gebreek.

Ons het Mallett ná die tyd daarop gewys, maar sy antwoord was: “Het julle gesien hoeveel duikslae hy gemaak het!”

Die Bokke, met Stewart en André Snyman as senterpaar, het voortgegaan en Ierland met 27-13 geklop, maar toe by die laaste hoë hekkie, teen Engeland, met 13-7 gestruikel .

Smith, vir wie ek net soos Mallett hoë agting het, het Woensdag in Bloemfontein dieselfde paadjie gestap: “Jy moenie ʼn speler beoordeel op die een bal wat hy mis vang en verby die drie balle kyk wat hy raak gevang het nie”.

So reg uit Mallett se boek van wyshede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Ben ·

Stem nie saam met die opskrif nie. Die doel van rugby is om jou doelyn te verdedig en dan om jou opponent se doelyn te oorsky. Ek sou, veral in toets rugby, dit feitlik onmoontlik maak om driee teen my span te druk. Dit breek die ander span se moed. Die Springbokke veg vir 30 min om punte aan te teken en dan neem die All Blacks ‘n minuut daarna om punte aan te teken. Nee dit is ‘n verkeerde strategie en kyk na julle resultate: 57 – 0.. Almal kan hardloop maar dit verg moed en vaardigheid om ‘n laagvat uit te voer. Dit is waar die ware Springbokke is. Bal vaardigheid is ook maar aan die skrap kant.

Carel ·

Vir die geld wat professionele verdien behoort albei fasette vlekloos te wees
Die afrigters moet by dissipline begin dan sal alles inluitend die haarstyle verbeter

Carel ·

Vir die geld wat hulle as professioneie spelers verdien behoort beide fasette vlekloos te wees

Carel ·

Die afrigters behoort by dissipline te begin dan sal die haarstyle ook verbeter

bollie ·

Die opskrif werk dalk in netbal (dit het beslis nie vir die Cheetahs in superrugby gewerk nie). Nee wat, in toetsrugby moet jou verdediging bo verdenking wees. Om soos ‘n afkophoender van jou doelyn af te hardloop in ‘n toets werk ook nie.

James ·

Ag nee wat Franco, verduidelik jy as spesialis agterlyn/aanval -afrigter liewers vir ons hoe jou spelers dit kon regkry om na n volle tagtig minute steeds n groot ronde niks op die telbord te wys. Dit lyk nie of jou briljante afrigtingstegnieke enigsins gehelp het nie. Ja, spelers van ander spanne slaan ook die bal aan, maar dis selde of ooit dat hulle geen punte aanteken nie. En ons briljante Dr” Verdediger” Venter ? 57 punte is met groot gemak deur jou unieke verdedigingslyne moontlik gemaak. Hoekom praat jy nie met ons nie?

Callie ·

Speler kan nie beskou word as n swak verdediger as hy een duikslag mis nie. Stem saam. Rhule het egter in al sy wedstryde omtrent net een duikslag nie gemis nie. Net so die agtsteman wat glad nie op veld hoort nie, sien hom glad nie iets doen nie. Mbonambi beter as Akkers. Beast verby sy beste. Heelagter Coetzee het ook nie verdediging. Skosaan ook nie. Met die span gaan bokke weer huil teen AB volgende week

Pieter Kruger ·

Die opskrif (wat ek voorgstel het) is dalk misleidend. Wat ek bedoel het, is dat afrigters op die aanval oorgaan wanneer hulle op die verdediging geplaas word, soos wat Saterdag met Raymond Rhule ens. gebeur het …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.