‘Absurde’ wendrie steel SA speler se glorie

Dit was eintlik absurd, dié wendrie wat ʼn Suid-Afrikaner se glorie in die jongste ronde van die Roemeense Superliga gesteel het.

Dit het gelyk of Hendrik Mulder die wedstryd vir Dinamo Bucuresti beklink het, toe hy kort voor die einde van die kragmeting teen Constanta sy span met ʼn skepdoel met 13-12 laat voorloop het.

Die vreugde was egter van korte duur, want Constanta kon in die doodsnikke ʼn maklike strafskop pale toe mik.

Dis toe sommer so ʼn woer-woer skop, wat die linkerkantste regoppaal laer as die dwarslat tref, en Dinamo kon ʼn sug van verligting slaak.

Fout!

Hulle was nog besig om te sug, toe raap ʼn Constanta-speler die terugspringende bal op en druk die wendrie onder die pale.

ʼn Oorstelpte Constanta – die sege van 17-13 was sy eerste in die liga – het nie eens met die doelskop moeite gedoen nie.

♦ In nog ʼn wedstryd in die reeks het Jarrid Els ʼn drie vir CSM Bucuresti in sy oorwinning van 19-16 oor die verdedigende kampioen, Timoşoara Saracens, gedruk.

Els, wat Duitsland al in 18 toetse verteenwoordig het, het Curriebekerrugby vir Grens gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.