Ackers kry sy afskeid op Ellispark

Jacques van Rooyen het hard gewerk en sterk gedryf en is met ‘n drie beloon. (Foto: GB Jordaan)

Ackers kry sy afskeid op Ellispark … en sy rustydpraatjie Saterdag in die halfeind teen die Hurricanes het die ietwat bekaf Lions ná rustyd na ʼn ander span laat lyk.

Die Lions se afrigter, Johan Ackermann, wat ná die eindstryd volgende week na Gloucestershire vertrek,  het ná rustyd daarop gewys dat die Lions met hul foute twee drieë in die eerste helfte aan die Hurricanes geskenk het en dat twee drieë sy span terug in  die prentjie sal bring.

Dit wás ook so, en die telling van 3-22 twee minute voor rustyd het na 44-29 met die eindfluitjie gerek. Dit was deeglike wraak vir die pak wat Hurricanes die Lions verlede jaar in die Wellingtonse eindstryd toegedien het.

Daarmee het hierdie Lions die eerste eindstryd in Superrugby na Ellispark gebring, die eerste Suid-Afrikaanse span sedert die Bulls in 2010 geword wat twee  opeenvolgende eindstryde gehaal het, en die tuiseindstryd aanstaande naweek teen die Crusaders verseker.

Ruan Ackermann het in die tweede helfte teen die Hurricanes hoe later hoe kwater gespeel. (Foto: GB Jordaan)

Die Lions het in  die eerste helfte min van die gebiedsvoordeel gehad en kon glad nie met hulle gewone kalmte en vrye aanvalswerk aan die gang kom  nie.

Daar was daardie los aangee van Elton Jantjies, aan-die-sleep verdediging in die middelveld toe die Canes met  ʼn beplande beweging aan die gang gekom het, en Ross Cronjé wat besit in ʼn duikslag verloor het wat tot drie drieë van die Hurricanes aanleiding  gegee het.

Die Lions het genoeg besit gewen. Hulle het weens die opskietverdediging van die Canes se agterspelers sterk op die voorspelers om die afbreekpunte vir hulle aanvalle gesteun, maar dit het te dikwels deur swak hanteerwerk skipbreuk gely.

Net voor rustyd het die Lions die eerste keer werklik gevaarlik aangeval. ʼn Hele paar spelers is net kort van die lyn vasgevat. Maar die aanslag was onophoudelik en Jacques van Rooyen, wat deurgaans gewerk en nogmaals gewerk het in die vastelos, het na ʼn aantal fases oorgedryf en dit was 10-23 met waterdrinktyd.

♦  Toe het die Lions in die tweede helfte met die vryheid gespeel waarvoor hulle bekend is.

Ja, dit is seker aangehelp met die geel kaart aan Beauden Barrett toe hy wou wegrol en die bal saam met hom na die Hurricanes se kant gehark is. Sinies, sê party; die regte besluit, sê ander. Maar as die bal tussen jou bene is en jy rol ver genoeg dat die bal aanhou saamkom, sou jy mos darem seker daarvan geweet het …

Ses drieë teen vier, pragtige hardlooprugby deur albei spanne … en die ingesteldheid van die Lions wat ná die aanvanklike onsekerheid teen die opskietverdediging die stang vasgebyt en met goeie oordeel gehardloop het.

Ross Cronje – sy vinnige diens, goieie afwisseling en breekslae maak hom een van die groot uitblinkers. (Foto GB: Jordaan)

Daar was vele uitblinkers: Ruan Combrinck wat gered en aangeval het, Jantjies wat verlede week se nagmerrie afgeskud en benewens sy vroeë fout uitstekend gespeel het; Franco Mostert wat twee kritieke balle op sy eie doellyn van die Hurricanes se ingooi gewen het, oral by was om de dryf of te skakel, baie hard gewerk en male sonder tal die oog met sy verdediging gevang het; Cronjé se skitterende afwisseling en vinnige skoonmaak omdat hy vinnig by die afbreekpunt is … noem dit maar, daar was 23 helde saam met die bankspelers wat ook hulle kant gebring het.

En dan net ʼn versoek: speel tog asseblief aanstaande week in albei helftes so goed?

Puntemakers –

Lions (10) 44: Drieë: Jacques van Rooyen, Ross Cronjé, Malcolm Marx, Harold Vorster, Elton Jantjies, Kwagga Smith. Doelskoppe: Elton Jantjies 4. Strafdoele: Jantjies 2.
Hurricanes (22) 29: Drieë: TJ Perenara, Wes Goosen, Ardie Savea, Ngani Laumape. Doelskoppe: Jordie Barrett 2, Strafdoel: Beauden Barrett.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Henry ·

Dankie tog Leeus!!!
Jantjies het sy BMT herwin en tsv enkele foute, sy taak as spelskepper 100% beter uitgevoer as laasweek. Die hele span het veral na rustyd hulself na die vlak geneem wat ons die afgelope paar jaar soveel plesier verskaf.
Vergeet van daai wind wat julle teen die Haaie gesluk het en bou voort op die tweede helfte van die Hurricane wedstryd.
Soooo lekker dat julle daardie winderige* All Black spelers en hul kommentators tjoepstil gespeel het.
:-)

*self gesensor

Josua Keys ·

Ek was daar en het dit aanskou en was dit nie lekker nie, ek is bly hulle kon die een deurtrek en moet ek sê was die Hirricanes ook ‘ n hele paar keer onkant gewees maar dit is nie meer tersprake, great game boys en soos hulle sal sê looks at the score board. Volgende week gaan net so n harde wedstryd wees maar as julle die hurricanes kon troef sal die Crusaders not n formaliteid wees maar julle sal skerp moet wees om die scrums. LIONS4LIFE Go Boyzzzzzzz!!!!

LOL ·

Welgedaan Lions. 2 minute voor rustyd het baie gedink hier kom ‘n reuse nederlaag. Hopelik is hierdie wen ‘n aanduiding van Springbok sukses hierdie jaar.

mambanza ·

Effe grootbek van ‘n span wat deur die hele kompetisie kon gaan sonder om teen enige Kiwi opposisie te speel. Dan nog met 4 tuis skeidregters in die semi-finaal te speel ook. Nou sit die Leeus met ‘n tuis finaal. Nee-wat dit is n opperste klug. Hoop die Crusaders mors met die Leeus!

Duitser ·

Sjame Mambanza, jou All Black spannetjie kon nie die mas opkom teen die Koning Leeu nie, bietjie suur?

Marius ·

As ons sover die tweede beste kon wen van die Kiwi’s is dit seker nie nodig om teen die swakker spanne te speel Ha Ha suur ne

Frans C ·

Eish Mambanza

Laasjaar het die Lions mos NZ-spanne gespeel en die eindstryd gehaal.Vanjaar het hulle die ‘maklike spanne’ gespeel en die eindstryd gehaal.Nou hoekom kon ander spanne wat laasjaar ‘maklike spanne’ gespeel het nie die Leeus nadoen nie?

Kan daar nie ‘n slag weggekom word van die al ewige provisialisme en aankoop van spelers nie.Sien dat die Sharks alreeds hul spens met Kings spelers gevul het.Wonder watter Kingsspan nou oorsee gaan speel.

Die feit is day die Lions met ‘rejects’ van ander provinsies twee jaar namekaar iets reggekry het wat ander spanne met hope aankope nie kon regkry nie.Dus doen hul iets reg.

Henk Stander ·

Die storie rondom Barret en sy geelkaart maak my suur. Ons almal weet dat NZ spelers die reëls druk, trek en buig. Elke liewe gane wat jy kyk is hulle alewig besig met nonsens van die bal af, of hulle doen goed pressies soos wat Barret gedien het. Barret het verseker geweet van daai bal en het verseker daai bal tussen su bene vas geknyp en oor gesleep na sy kant toe.

Dankie aan Pypies dat hy die moed gehad het om vir Barret af te stuur.

Nick Mallet, met groot respek vir jou rugby kennis, maar jy was eenvoudig verkeerd toe jy sê dat Pypies nie reg geblaas het daar nie.

Josua Keys ·

Henk jy is 100% reg ons was daar en daar was n hele paar keer waar die Harricanes onkant gespeel het, die bal was uit Ross se hande geduik wat tot n drie vir die Hurricanes gely het en toe die Leeus reg onder die pale op die aanval was is die bal n tweede keer uit hulle hande geduik in alby die gevalle was dit geel kaart oortredings, die Leeus was in alby gevalle op die aanval. In stadige aksie kan jy duidelik sien dat Barrett vir die bal gekyk het voor hy terug gekruip het hy kon kan toe gerol het weg van die bak af maar die opsie gekies om agteruit te kruip met opset om die bal stadig te maak en terug te wen ek gee nie om wat Nick Mallet gesê nie in normale aksie is dit duidelik gewees wat sy intensie was. In omtrent elke losgemaal het die Hurricanes die bal voor Ross probeer wegskop of uit die ouens se hande trap wat negatiewe spel was, Jaco Pyper het dit ook gemis, so ja, maak nie saak wat die “nie” Leeus ondersteuners wil sê nie, die Hurricanes moes by regte met ‘n verdre 12 punte verloor het. O ja om net mense reg te help, die Hurricanes was die no1 span van NZ die Crusaders het teen hulle in die kwarteindronde verloor, sou die Crusaders gewen het was die eind ronte in NZ nie op Ellis Park nie.

Kom Ons Boks ·

Ai, klompie jare terug was ek die bespotting by menige ‘n braai omdat ek ‘n vurige Leeu ondersteuner is. Nou swel my trots so dat ek sukkel om myself terug te hou by hierdie einste braai sessies. Baie dankie Johan Ackerman, baie dankie. OP DIE BRUL!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.