Ackers loop in Saracens se spore met SA spelers

Johan Ackermann. (Foto: Twitter)

Is Johan Ackermann besig om ʼn tweede “Saracens” in die Engelse Premierliga te bou?

Die nuus uit Engeland dui daarop dat die voormalige Lionsafrigter ʼn kern spelers uit Suid-Afrika bymekaar maak wat sal maak dat sy Engelse klub, Gloucester, in die komende Britse seisoen tot sewe spelers uit Suid-Afrika in die veld sal kan stoot.

Vyf van hulle het onder sy afrigting vir die Lions gespeel.

Ackermann het reeds die Sharks se haker, Franco Marais, en die Lions se flank, Jaco Kriel, bygekry nadat sy seun Ruan in die afgelope seisoen, sy eerste in die Premierliga, die wêreld al aan die brand gespeel het.

Na uit Gloucester verneem word, is die onderhandelinge met Rohan Janse van Rensburg en Franco Mostert van die Lions reeds in ʼn gevorderde stadium. Dit is glo ʼn uitgemaakte saak dat die Springbokstut Ruan Dreyer óók op pad na Gloucester is.

Die slot Gerbrandt Grobler skuif beslis ook vanaf Munster na Gloucester, wat afgerig word deur die Bokke se assistentafrigter Johann van Graan.

♦ Saracens se spanne het sedert die laat 1990’s en tot baie onlangs gewemel van Suid-Afrikaanse spelers. Johan Rupert se Remgro had ʼn 50%-aandeel; die 1995-Wêreldbekerkaptein, Francois Pienaar, en die voormalige (heel eerste) hoofbeampte van die SA Rugbyunie, Edward Griffiths, Brendan Venter (verlede jaar ʼn assistentafrigter van die Bokke), en Engeland se afrigter, Eddie Jones, wat die Bokke in 2007 tot Wêreldbekerglorie help afrig het, het by Saracens die kitaar geslaan.

Onder die Londense klub se kapteins tel groot name soos die twee Wêreldbeker-wenkapteins Pienaar en John Smit; die Engelse senter van die Sharks, Brad Barritt; Springbokke Neil de Kock en Allistair Hargreaves; tientalle spelers, insluitende die Springbokke Cobus Visagie, Deon Carstens, Brent Russell, Derrick Hougaard, Schalk Brits, Schalk Burger en Derick Hougaard.

Terloops, in November 2009 het Hougaard met ʼn laat skepskop Saracens gehelp om met 24-23 teen die Springbokke te wen. Daar was dié dag nege Suid-Afrikaners in Saracens se span.

In ʼn stadium was daar tot 12 spelers van Suid-Afrika gelyktydig op Saracens se spelerslys.

Dit het tot groot ongelukkigheid onder die Engelse klubs en ondersteuners gelei wat na die klub as Saffracens verwys het – en dié geluide begin reeds weer kop uitsteek met Ackerman se kontraktering.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Koos B ·

Net bly Ackermann kan ‘n heenkome gee vir die Suid Afrikaners wat waarskynlik nie ‘n toekoms in ons land het nie.

Vraagteken ·

Dis die definisie van ‘n lafaard.

2 jaar terug het hy geskreeu dat spelers nie moet loop nie. Nou is hy besig om hulle een vir een te vat.

Nakkie die Nar ·

“Vraagteken”: Vat vyf, goed gese, netjies gestel, ek beaam dat hy dit (nog as afrigter by die Lions) WEL gese het.
Dis die waarheid???!!!

Michael ·

Nee vraagteken jy klink nou soos suur druiwe. Regtig waar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.