Ackers verander kwaai aan SA A-span; Pollard op bank

Handré Pollard behoort Vrydagaand van die bank af kans te kry (Foto GB Jordaan)

Net twee van die spelers wat verlede week in die ietwat los hardloopwedstryd teen die Franse Barbarians gespeel het, sal Vrydagaand in Orlando vir die SA A-span in die tweede kragmeting tussen dié spanne opdraf.

Hulle is die twee Sharks, Lwazi Mvovo – dié keer as vleuel – en die slot Ruan Botha.

Die baie veranderinge is volgens die afrigter Johan Ackermann aangebring om almal in die A-span se groep in ʼn wedstryd te laat speel, en ook omdat daar ʼn versoek van die Bokke se afrigter Allister Coetzee was dat sekere spelers speelkans moet kry.

Dit is feitlik seker dat die Springboklosskakel Handré Pollard een van dié spelers is. Pollard het verlede jaar glad nie gespeel nie nadat hy ʼn knie- en ook ʼn skoueroperasie aan die einde van 2015 ondergaan het.  Hy het vanjaar net mooi op stryk begin kom toe hy middel-April sy enkel beseer het en ʼn operasie moes ondergaan.

Pollard het twee weke gelede vir die Blou Bulle in die Supersportreeks uitgedraf. Hy begin Vrydagaand op die bank met die Vrystater Fred Zeilinga wat die opdraf-losskakel is.

Francois Venter, wat in 2016 ook vir die SA A-span gespeel het, is die kaptein, met verlede week se aanvoerder, Juan de Jongh, wat na die bank toe afskuif. Lionel Mapoe is die buitesenter.

Die flank Chris Cloete van die Kings is saam met Andisa Ntsila en Sikhumbuzo Notshe die losvoorspelers. Cloete was weens ʼn skorsing nie verlede week verkiesbaar nie.

SA A-span –

Warrick Gelant, Lwazi Mvovo, Lionel Mapoe, Francois Venter (kapt.), Seabelo Senatla, Fred Zeilinga, Dewaldt Duvenage, Andisa Ntsila, Sikhumbuzo Notshe, Chris Cloete, Ruan Botha, Jason Jenkins, Trevor Nyakane, Ramone Samuels, Ox Nche. Bank: Franco Marais, Thomas du Toit, Wilco Louw, Uzair Cassiem, Ruan Ackermann, Jano Vermaak, Handré Pollard, Juan de Jongh.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.