Ackers volg Jake se voorbeeld

Wêreldbeker-kampioen 2007.

Wêreldbeker-kampioen 2007.

Is ons geheue so kort?

Onthou u wat in 2007 gebeur het toe die Bokke die Wêreldbeker-toernooi gewen het?

Jake White, wat bekend daarvoor is dat hy sy eie kop gevolg het, het dié keer na prof Tim Noakes geluister en sy Bokke vir die oorsese wedstryde van die Drienasies-reeks teen die Wallabies en die All Blacks laat rus.

Die Lions-afrigter, Johan Ackermann, sal dit baie goed onthou, want hy was ook daar en het teen die Wallabies gespeel, terwyl Victor Matfield en Bakkies Botha gerus het. Só ook was Bevin Fortuin, Jaco Pretorius,  Tonderai Chavhanga, Waylon Murray, Wynand Olivier, Derick Hougaard, Peter Grant, Michael Claassens, Pedrie Wannenburg,  Gary Botha, Eddie Andrews, Hilton Lobberts en Gerrie Brits op toer. Een of twee van hulle was wel by die WB-toernooi, maar was nie in White se uitsoekspan nie.

En wat het gebeur? Die Bokke het met 17-25 slae gekry teen die Wallabies en is met 33-6 deur die All Blacks oorrompel. White is oor die kole gehaal.

En wat het `n paar weke later in Frankryk gebeur? White het tong vir almal uitgesteek toe die uitgeruste en beseringsvrye Bokke die WB-toernooi gewen het.

Ackermann het vandeesweek voor dieselfde keuse gestaan toe hy die Lions se span vir Saterdag se laaste Superrugby-groepwedstryd teen die Jaguares moes kies.

Die Lions se bestes bly tuis en hou aan oefen, terwyl `n jong en onervare groep na Buenos Aires reis.

Ackermann kan niemand tevrede stel nie, want dis ses van die een en `n halfdosyn van die ander. Wen die Lions die Superreeks, was dit `n meesterskuif. Verloor hulle, was dit `n onnodige waagstuk.

Die Lions het verlede Vrydag lusteloos voorgekom teen die Southen Kings. Moes Ackermann hulle aan nog `n lang vlug blootstel met die moontlikheid dat een of twee spelers beserings kan opdoen? Moes hy met met `n vlugflou-span (na alle waarskynlikheid) teen die Sharks (uitgerus) in die kwarteindronde speel?

Hy het met die Bulls gesels nadat `n hele paar spelers met griep in Suid-Afrika aangekom het ná die kragmeting in Buenos Aires wat hulle straks op die vlug hierheen opgedoen het. Moes hy waag?

Kom ons wees eerlik, aan die begin van die seisioen het baie min van ons die Lions kans gegee om bo te eindig. Nou is hulle seker van minstens een, dalk twee of selfs drie uitspeelwedstryde op Ellispark.

Hy het eintlik net twee keuses gehad:

  1. As die span Saterdag wen, bly die Lions boaan die puntelys en dan is die kwarteindstryd en moontlike half- én eindstryd op Ellispark straks teen `n vlugflou Nieu-Seelandse span. Boerpot!
  2. Verloor die Lions, speel hulle steeds tuis in die kwarteind- en moontlike halfeindronde, en dan moet hulle na Nieu-Seeland reis vir die eindstryd. Plekpot!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jonathan ·

Wel wat kan ek sê as n Lion supporter, EEN SUPER SLIM AFRIGTER,

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.