Afgewaterde Superrugby die res van die maand

Wie sal nou ʼn pakkie tweeminuut-noedels bo sagte lamtjoppies en paptert by ʼn braaivleis verkies?

Dis presies hoe van hierdie naweek, en volgende Vrydag, se Superrugbywedstryde beskou kan word.

Alle aandag is die res van die maand op toetsrugby, op die Britse en Ierse Leeus wat hul Nieu-Seelandse toer teen die Nieu-Seelandse provinsiale Barbarians begin.

Op Superrugbyvlak wag daar dié naweek slae vir drie van die vier Australiese spanne wat teen Nieu-Seelandse spanne speel  (die Brumbies speel darem teen die Rebels om . die pyn te versag). Daar sal ook min belangstelling van die Suid-Afrikaanse kant af wees omdat al ses plaaslike spanne tot 30 Junie en 1 Julie ʼn blaaskans kry.

Maar die ironie is dat drie van die naweek se wedstryde, dié tussen die Crusaders teen die Highlanders, Chiefs teen die Waratahs en Force teen die Hurricanes, vir van die Suid-Afrikaanse spanne  belangrik kan wees – nie wat die Bulls-, Cheetahs- en Kings-ondersteuners betref nie, maar dit kan die paadjie uitstippel wat die Lions, Stormers en Sharks in die uitspeelwedstryde sal moet volg.

Die Crusaders (59 punte) is drie punte voor die Lions (56) op die algehele puntelys. As die Crusaders teen die Highlanders op die wenpad bly, en ook ʼn bonuspunt verower, sal dit al hoe moeiliker vir die Lions raak om ʼn moontlike tuiseindstryd op Ellispark aan te bied.

Die Sharks-ondersteuners, en so ook die Stormers, sal die vordering van die Hurricanes (48 punte ná 12 wedstryde), Highlanders (45 punte ná 13 wedstryde) en Chiefs (45 punte ná 12 wedstryde) dophou. Die Sharks sal na alle waarskynlikheid sewende of agtste eindig en sal dan weg teen of die Lions, Chiefs, Hurricanes of Highlanders uitspeel.

Die Stormers sal teen die span speel wat sesde eindig.

En o ja, die Blues, wat aanstaande Woensdag teen die Britse en Ierse Leeus speel, kom in Apia in Samoa teen die Reds te staan, en die Crusaders se wedstryd teen die Highlanders begin om 04:35 (Suid-Afrikaanse tyd).

Die rede daarvoor is omdat al die aandag op die Britse Leeus is.

Wie gaan daardie tyd al wakker wees?

Naweek-bepalings –

Vrydag:
09:35: Blues vs Reds (Apia, Samoa)

Saterdag:
04:35: Crusaders vs Highlanders (Christchurch)
07:05: Chiefs vs Waratahs (Hamilton)
11:45: Brumbies vs Rebels (Canberra)
13:55: Force vs Hurricanes (Perth)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Fires ·

NZ se rugby is hoog kykbaar dis maar net die opposisie wat swak is.
Al hoe ‘n Suid Afrikaanse span die Superreeks kan wen as hulle tuis in die eindstryd speel wat nie moontlik lyk nie. Die kans dat die Crusaders kan vasval is uiters skraal en niemand sal hulle in die eindstryd op hul veld kan klop nie.

Eish ·

Ons sien baie uit na die herdoop seremonie DV Saterdag van Loftus na Mitchelsplein.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.