Afrig is nie vir sissies nie

Om ʼn rugbyafrigter te wees, is nie maklik nie.

Kyk maar net hoe die Engelse afrigter, Eddie Jones, se aandele binne ʼn paar weke byna net soos dié van Steinhoff getuimel het.

Hy is geloof as die sogenaamde wonderwerker van Engelse rugby, wat alles in goud omgetower het toe hy as afrigter oorgeneem en die Engelse begin wen het.

Hy het die hoofopskrifte gehaal toe Engeland die All Blacks se wêreldrekord (vir groot spanne) van 18 opeenvolgende toetse geëwenaar het.

Maar toe kry die Engelse vanjaar slae teen Ierland in die Sesnasiesreeks en eindig vyfde in die reeks.

Waar die krake oor twee jaar toegemessel is en daar anderkant toe gekyk is wanneer die Rose die dag nie goed gespeel het nie, word die foute ewe skielik uitgewys.

Oudspelers en gewese afrigters klim nou onder hom in, kraak sy speelpatroon en spankeuses af en wys sy tekortkominge uit.

Was dit nie maar altyd daar nie?

Nou is hy glo die kluts kwyt, is hy weer ʼn Aussie en loop hy deur, net soos die oud-All Black-heelagter Robbie Deans wat as Wallaby-afrigter uitgedryf is nadat die Aussies ook nie kon wen nie.

Sondag op Twickenham is Jones opnuut gekasty toe die Engelse teen die Barbarians slae gekry.

Dit was nie ʼn toets nie, en sy beste spelers (van Saracens en die Exeter Chiefs) het nie gespeel nie ‒ maar dit maak nie saak nie, want hy het nie meer mooiweersvriende oor nie.

Wen, Meneer, wen …

Hoeveel keer het ons dit nie al in Suid-Afrikaanse rugby beleef nie?

Toe Allister Coetzee in 2015 aangestel is en sy eerste Springbokgroep gekies het, is hy op die hande gedra.

Vergeet van sy verkeerde spankeuses, vergeet van sy speelpatroon, vergeet van alles, hy kon aanvanklik niks verkeerd doen nie.

En só ook voor hom: Heyneke Meyer, Peter de Villiers, Jake White, Rudolf Straeuli, Harry Viljoen, Nick Mallett, Carel du Plessis, André Markgraaff, Kitch Christie, Ian McIntosh en John Williams.

Toe hulle aangestel is, was hulle almal se pêl. Maar hoeveel van hulle is heraangestel?

Nie een nie!

Dis hoekom Rassie Erasmus met ’n yslike taak opgesaal is. Tot dusver het hy al die regte knoppies gedruk, die slaggate vermy en netjies gesystap.

Hy begin met ’n skoon lei, maar soos die Engelse altyd sê: ““The proof of the pudding is in the eating”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ella ·

Om Kitch Christie in dieselfde sin as die ander manne te noem is byna lasterlik…hy is immers nie afgedank (as Springbok afrigter in elk geval) weens swak vertonings deur sy span nie. Dat Hentie Serfontein die swak smaak aan die dag gelê het om hom af te dank as Noord-Transvaal afrigter terwyl Kitch in die hospitaal was is ‘n ander gesprek.

Callie ·

Ek sal waarborg, met kwotas en Rassie wat dit so mooi verdedig, bokke haal nie kwarteind volgende jaar nie

Gatvol ·

Ella stem saam. Die rubriekskrywers moet asb eers hulle vergewis van feite . Kry die indruk dat daar net vir sensaie geskryf word.

Pieter Kruger ·

Kitch het nooit ‘n kontrak gehad nie, net ‘n “gentleman’s agreement” met dr Luyt. Die feite is dat hy hy nie kon voortgaan nie, vanwee sy siekte. Daar is nerens berig dat hy afgedank is nie … ek het jareank ‘n lang paadjie met Kitch gestap, eers by Harlequins en toe by die Leeus en Bulle. Die strekking van die berig is dat nie een SA afrigter se kontrak hernieu is nie.
Pieter K.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.