Afrigter Roux steun op ervaring vir Junior Bokke se wegspring

Ernst van Rhyn, kaptein van die Junior Bokke (Foto: Facebook Junior Springboks)

Chean Roux het in sy spankeuse vir die Junior Springbokke se eerste wedstryd in die o.20-Wêreldkampioenskap Woensdag in Tbilisi, Georgië, swaar op ervaring gesteun.

Hy het ses van die agt spelers in die groep ingesluit wat verlede jaar in die toernooi in Birmingham gespeel het. Hulle is die Sharks se Superrugby-losskakel Curwin Bosch, flanke Ernst van Rhyn en Zain Davids, die heelagter Manie Libbok, die senter Stedman Gans en die vaskopstut Carlu Sadie.

Van Rhyn voer die span aan wat met Davids en Gans twee spelers insluit wat die Blitsbokke na die Wêreldkroon help dra het. Daar is ook ʼn aantal van die spanlede wat in die Varsitybekerreeks gespeel het.

ʼn Sewende lid van verlede jaar se Junior Springbokke, die stut Kwenzo Blose, is op die bank.

Frankryk het vroeër vanjaar tweede in die o.20-Sesnasiesreeks geëindig, en is na alle berigte ʼn span met aggressiewe voorspelers maar ook ʼn agterlyn wat werklik kan hardloop as die besit reg is.

Sondag speel die Junior Bokke teen die tuisspan Georgië en aanstaande Woensdag kom die Poemas aan die beurt in die twee spanne se laaste groepwedstryd.

Woensdag se wedstryd begin om 13:30 (SA tyd) en word direk op SuperSport 1 (kanaal 201) uitgesaai.

Span

5 Manie Libbok, 14 Yaw Penxe, 13 Stedman Gans, 12 David Brits, 11 Wandisile Simelane, 10 Curwin Bosch, 9 Rewan Kruger, 8 Juarno Augustus, 7 Ernst van Rhyn (kapt.), 6 Zain Davids, 5 Ruben van Heerden, 4 Salmaan Moerat, 3 Carlu Sadie, 2 Johan Grobbelaar, 1 Gerhard Steenekamp. Bank: 16 Kwenzo Blose, 17 Daniel Jooste, 18 Lee-Marvin Mazibuko, 19 Hendré Stassen, 20 Nama Xaba, 21 Francois de Villiers, 22 Damian Willemse, 23 Gianni Lombard.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.