Afrigters het almal gryshare

Nene Milner-Skudder - vir wolwe? (Foto: All Blacks)

Nene Milner-Skudder – vir wolwe? (Foto: All Blacks)

Is hy te vroeg vir die wolwe gegooi, of was dit `n fratsbesering?

Dis altyd een van die vraagstukke waarmee rugbyafrigters worstel wanneer jong spelers blootgestel word.

In Nieu-Seeland sal Nene Milner-Skudder, die All Black-vleuel van die Hurricanes, `n paar maande langer langs die kantlyn deurbring nadat hy in Maart `n operasie vir `n ernstige skouerbesering ondergaan het. Hy sal nie vir die All Black-toer aan die einde van die jaar na Europa oorweeg word nie, want die afrigter, Steve Hansen, het volgens stuff.co.nz gesê dit sal hom niks in die sak bring om Milner-Skudder net een wedstryd op toer te laat speel nie.

Is hy te vroeg ingespan, kon sy lyf die stampe en stote verduur?

Het Milner-Skudder, een van die talentvolste spelers in Nieu-Seeland, se besering `n rol gespeel toe nog `n talentvolle speler Damian McKenzie een van die skokweglatings was vir die All Blacks-span vir die Rugbykampioenskap?

McKenzie (1,77 en 81 kg) is net so vlugvoetig en balvaardig soos Milner-Skudder (1,80 en 90 kg). McKenzie het tien drieë in vanjaar se reeks gedruk, net een minder as Israel Folau van die Waratahs. Hy het 1 304 meter veld gewen, 67 teenstanders geflous en ook 40 teenstanders platgetrek. Maar hy is nie gekies nie.

In Suid-Afrika staan die Bok-afrigter Allister Coetzee ook voor `n dilemma. Daar is bespiegelings dat hy vir Seabelo Senatla, wat briljant as `n sewesspeler is, in die Springbokgroep vir die Rugbykampioenskap ingesluit sal word.  Senatla was voorheen saam met Heyneke Meyer-hulle op toer, maar het net duiksakke vasgehou en nooit speelkans gekry nie.

Sal sy lyf die stampe en stote van vyftienmanrugby kan hanteer? Sal hy stormramme soos Julian Savea kan keer?

Dis hoekom rugbyafrigters deur die bank gryshare het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.