Dis nie maklik om ʼn rugbyafrigter te wees nie, want jy moet hare op jou tande hê en weet wanneer en waar om die streep te trek en dan op te tree.
Dis hoekom hulle sê dat onderwysers en skoolhoofde goeie afrigters is, want hulle weet hoe om te kommunikeer en met mense (in baie rugbyspelers se geval tree hulle soos kinders op) te werk.
Dink maar aan onderwysers soos Eddie Jones, Graham Henry, Jake White, Peter de Villiers (ja, hy het die Britse en Ierse Leeus geklop en ook die All Blacks in Nieu-Seeland getroef), Allister Coetzee (kom ons hou die perde in tot ná die Rugbykampioenskap), Bob Dwyer, Stuart Lancaster en John Mallinder, die suksesvolle afrigter van die Engelse Saxons, die Engelse o.20-span, Sale Sharks en Northampton.
Die stoute seuns van rugby soos Manu Tuilagi, James O’Connor, Kurtley Beale, Danny Cipriani en in die Springbokke se geval, Bok-helde soos James Small en James Dalton, gee jou grys hare.
Hulle is/was almal baie begaafde spelers, maar hulle was baie keer om die verkeerde redes op die voorblaaie.
Tuilagi het nou die soveelste keer in sy loopbaan die grense van matigheid oorskry toe hy en die gewese rugbyligaspeler Denny Solomona Maandagoggend eers om 04:00 by die spanhotel aangekom het (daar was alkohol betrokke) tydens ʼn nasionale driedaagse oefenkamp.
Tuilali, wat in Samoa gebore is en reeds in 26 toetse gespeel het, was in 2010 die eerste keer in die moeilikheid en byna gedeporteer nadat daar agtergekom is dat sy vakansievisum reeds in 2004 verstryk het en hy ses jaar lank onwettig in Engeland gebly het.
Hy is in 2011 vir ses weke geskors nadat hy Chris Ahton met die vuis bygekom het en later in dieselfde jaar tydens die Wêreldbekertoernooi in Nieu-Seeland is hy met byna R50 000 beboet nadat hy van ʼn boot af in die Aucklandse hawe gespring het.
In 2015 is hy met byna R100 000 beboet nadat hy twee polisiemanne aangerand het. Nou het hy weer oortree.
Moet jy so ʼn speler bly kies en hoeveel kanse moet jy hom gee?
Het Pieter die wysheid van Salomo gehad toe hy sy spanne gekies het.