Afrigters praat oor SuperSport-eindstryd

Jimmy Stonehouse en Peter Engledow (Foto’s: Pumas Rugby en Griekwas Rugby)

Twee gesoute en suksesvolle afrigters, albei met buitelandse ervaring, vat mekaar voor die bors wanneer die Pumas en Griekwas Sondag in Oudtshoorn in die eindstryd van die SuperSport-reeks aanmekaarspring.

Pale Toe! het Jimmy Stonehouse (Pumas) en Peter Engledow (Griekwas) se menings oor Sondag se wedstryd gevra.

Oor een ding stem die twee saam: Onderliggend aan ʼn sege is die akkurate uitvoering van alle fasette op die dag se spel.

Stonehouse, die Pumas se rugbydirekteur, sê almal is bewus daarvan dat wen of verloor in ʼn eindstryd van die benut of verspeel van geleenthede afhang.

“Albei spanne se voorbereiding en strategiese beplanning sal regtig deeglik gedoen wees,” het hy gesê, maar ons almal weet, op dié dag is alles moontlik.

“Die span wat die minste foute maak op die aanval, verdediging en wat dissipline betref, sal met die louere wegstap.”

Stonehouse glo die Pumas se konstante vertoning en kalmte is pluspunte.

“Die span was in sy jongste drie wedstryde in die eerste 20 minute onder geweldige druk, en het dit elke keer goed verwerk.”

Hy sê Griekwas was verlede jaar in die eindstryd en het ʼn voorsprong betreffende die gevoel daarvan.

“Gelukkig vir albei spanne het niemand tuisvoordeel nie, en ek glo ons moet eenvoudig so vinnig moontlik aanpas ná ons reis Oudtshoorn toe.

Die hongerste span, bedoelende akkuraatheid in alle fasette, en die gedissiplineerdste span sal seëvier,” is Stonehouse se standpunt.

Engledow, Griekwas se hoofafrigter, meen dit sal ʼn strawwe eindstryd wees met die twee spanne se speelstyl wat geheel en al van mekaar verskil.

“Eindstryde gaan daaroor om die druk te verwerk, en om akkurate uitvoering op die dag se spel.

Ons het ʼn goeie wegspring nodig, en ek glo as ons hul maalbewegings in toom kan hou, het ons ʼn goeie kans om die beker omhoog te hou,” vat hy Griekwas se kans saam.

“Dit is egter ʼn eindstryd en ek veronderstel albei spanne glo hulle kan wen. Dis opwindend, en ons is verheug om weer in die eindstryd te speel.”

Engledow sê sy span en die bestuur het hard gewerk om te kom waar hulle is, en hy is trots op hulle.

♦ Jimmy Stonehouse, die Pumas se rugbydirekteur, is as breier op skolevlak al sedert 1990 in die bond bedrywig. Hy kom sedert 2008 saam met die senior span, behalwe drie jaar wat hy in Japan afgerig het. Hy het in 2013 die SA Presidents-vyftiental afgerig wat die destydse Internasionale Rugbyraad se Tbilisi-beker in Georgië gewen het. Daarby kom ʼn skof waarin hy Rusland se nasionale sewes- en o.19-span touwys gemaak het.

♦ Engledow was agt jaar lank as ontwikkelingsbeampte aan die Engelse Rugbyunie (RFU) verbonde, waar hy onder meer afrigters geslyp het. Hy is sedert 2014 by Griekwas, as Vodacombeker-hoofafrigter, Curriebeker-hulpafrigter en sedert 2016 die hoofafrigter van die Curriebekerspan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.