Afrigtersberaad manna uit die hemel, maar …

logo-saruDis nie aldag dat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) op die skouer geklop moet word vir sy besluite nie, maar steeds is daar `n klippie in die skoen.

Saru het Dinsdag aangekondig dat die huidige Springbokafrigtingspan, Saru se hoëprestasie-departement (wie dit ook al mag wees), die breiers en kondisioneringsafrigters van die ses Super-franchises en ander kundiges van 19 tot 21 Oktober `n nasionale afrigtersberaad in Kaapstad sal bywoon.

Saru sal eers later bekend maak watter kundiges uitgenooi sal word, maar hopenlik sal hulle Nick Mallett, Brendan Venter, Naas Botha, John Mitchell en Derik Coetzee (kondisionering) ook betrek. In sommige kringe word Jake White se naam ook genoem, maar ek twyfel of Montpellier toestemming sal gee dat hy dit kan bywoon.

Die beraad is broodnodig, daar kan nie langer gewag word nie, daar kan nie meer verskonings gemaak word nie, daar kan nie meer in `n ander rigting gekyk word nie, daar sal koppe bymekaargesit moet word.

Dis jammer dat Dawie Theron se opvolger om die nasionale o.21-span af te rig, nog nie aangewys is nie, want dis ewe noodsaaklik dat die Junior Springbokke dieselfde patroon as die Bokke volg.

Maar die beraad vind in dieselfde week as die eindstryd van die Curriebeker-reeks plaas, wat op 22 Oktober gespeel word. Die kans is goed dat die Leeus, Cheetahs of Bulle tot die eindstryd sal  deurdring, wat beteken dat twee van Johann Ackermann en Swys de Bruin (Lions), Nollis Marais (Bulls) en Franco Smith (Cheetahs) dit dalk nie sal kan bywoon nie.

Dis juis die afrigters wat betrek MOET word, want hulle spanne volg die konsep in die Super- (en Curriebekerreeks) wat die Bokke moet volg.

Maar dis die belangrikste stap in die regte rigting, want daar sal indringend gekyk moet word waarom die Bokke glo nie fiks genoeg is nie, nie takties of pale toe kan skop nie, nie behoorlik kan verdedig nie, nie meer drieë kan druk nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jurie Bender ·

n Bietjie laat vir dit want ons naam is klaar gat. Dit mag dalk help om dit beter te laat gaan by die volgende Wereld Beker. Ek sien een probleem – Saru en n onbekende departement gaan betrokke wees maar ek sien nerens dat die regering hulle neuse uit die kies van die span sal hou nie. Ek gee nie om wie speel nie maar kies op vorm en nie op kleur nie. Dan sal die ondersteuners ook by die span staan – wen of verloor.

Arie ·

Hulle kan vergader tot hulle blou word solank die kwotas afgedwing word help dit niks

Jakkalas ·

Alles goed en wel met die brein storm. Wat van ‘n behoorlike skrum coach soos Balie Swart wat ek reken van die beste skrum coaches in wêreld rugby is. Dan kan ons iemand se kennis soos Danie Gerber se kennis inspan by skole sodat hy kinders kan leer om insig te ontwikkel en hardloop lyne daarvolgens aan tepas en teenstaanders te uitoorlê. Alle Coaches moet hulle trots in hul gat sak steek en hulp inkry. Hy kan steeds sy stempel op spanne afdruk deur slim te coach. Die Bokke lyk nie so fiks soos die AB nie hulle lyk nie so goed gekondisioneer nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.