Afrika en Kok se terugkeer vergoed vir Kwagga en Senatla

Werner Kok - terug in Las vegas (Foto foxsports.com.au)

Werner Kok – terug in Las Vegas (Foto foxsports.com.au)

Die twee Blitsbokke Werner Kok (2015) en Cecil Afrika (2011) was albei Wêreldrugby se sewesspeler van die jaar, en hulle terugkeer sal die naweek in Las Vegas grootliks vergoed vir die afwesigheid van Seabelo Senatla en Kwagga Smit wat nou Superrugby speel.

Vir Kok is dit nie werklik ʼn “terugkeer” nie. Hy was lid van die span in die vorige toernooie in Wellington en Australië waar hy in die Sydney-toernooi sy kuitspier in die groepronde verrek het. Hy  kon nie in die uitspeelrondes of in die eindstryd speel wat deur die Blitsbokke gewen is nie.

Kok was egter verlede jaar, ook weens ʼn besering, nie in die groep wat in Vegas gespeel het nie, en sien baie daarna uit – en meer as net die opwindende vreemdheid van Vegas as stad, is dit die gees van die ondersteuners in die Sam Boyd-stadion waar die toernooi plaasvind, wat hom aangryp.

♦  Afrika was egter sedert die Kaapstadse toernooi vroeg in Desember nie beskikbaar nie. Hy het sy knie so middel-Januarie in ʼn oefening van die Blitsbokke beseer en het dus die Blitsbokke se laaste twee toernooie in Wellington en Sydney misgeloop.

Die Suid-Afrikaanse rekordhouer met 1 167 punte in sy 47 toernooie  is op sy sewende besoek aan Las Vegas. Sy afwesigheid het getoon dat Justin Geduld voortaan met gemoedsrus deur die afrigter Neil Powell in die beginspan as spelskepper ingespan kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.