Afrika: Nuwe Namibiese kaptein; Kenia in krisis

Johan Deysel – nuwe Namibiese kaptein. (Foto: NRU)

Namibië het ʼn nuwe kaptein vir Rugby Afrika se komende reeks om die Goue Beker gekies; en Kenia dreig om vanweëʼn geldknyp aan die reeks te onttrek.

Dis van die jongste verwikkelinge in die reeks, wat as die laaste gewestelike aanspraak op plek in aanstaande jaar se toernooi om die Wêreldbeker (WB) in Japan dien.

Namibië speel Saterdag in Windhoek teen Uganda, wat kragtens ʼn ooreenkoms met die Vrystaatse Rugbyunie deur John Duncan afgerig word. Zimbabwe, met die gewese Springbokafrigter Peter de Villiers as breier, speel in Harare teen Marokko.

♦ Johan Deysel (buitesenter) is die nuwe Namibiese kaptein in die plek van die beseerde Renaldo Bothma. Hy het 17 toetse agter die blad, en is die man wat Namibië se drie in sy enigste kragmeting tot dusver teen die All Blacks, in Londen se Olimpiese Stadion by 2015 se Wêreldbeker-toernooi, gedruk het. Nieu-Seeland het met 58-14 gewen.

Die span sluit slegs twee nuwelinge, albei op die bank, in. André Rademeyer (loskopstut) en PW Steenkamp (veelsydige agterspeler) het albei verlede jaar nog vir die Namibiese o.20-span gespeel.

Die skrumskakel Eugene Jantjies is die mees ervare speler met 61 toetse en drie WB-toernooie agter die blad.

Chrysander Botha (heelagter, 49 toetse), PJ van Lill (agsteman, 45 toetse), Darryl de la Harpe (binnesenter, 40 toetse) en Rohan Kitshoff (bank, 37 toetse) het elk twee Wêreldbeker-toernooie ervaar.

♦ Intussen het die Keniaanse Rugbyunie (KRU) ʼn verklaring in Nairobi uitgereik, dat hy vanweëʼn geldkrisis oorweeg om al sy spanne aan internasionale deelname te ontrek.

Hy is een van die ses lande wat aan die Goue Beker-reeks deelneem.

Die KRU sê hy het tot dusver net 31 miljoen Keniaanse sjielings (sowat R4 miljoen) ontvang van die KS124 miljoen (oor die R16 miljoen) wat die Keniaanse regering aan die unie beloof het. Die res was teen 5 Junie betaalbaar.

Hy sê die geldtekort het sy werksaamhede tot stilstand gebring, en hy kan nie langer sy internasionale verpligtinge nakom nie.

Kenia se eerste Goue Beker-wedstryd is vir 23 Junie teen Marokko in Casablanca bepaal.

Namibië se span –

15 Chrysander Botha (49 toetse), 14 Lesley Klim (7), 13 Johan Deysel (kaptein, 17), 12 Darryl de la Harpe (40), 11 JC Greyling (23), 10 Cliven Loubser (6), 9 Eugene Jantjies (61), 8 PJ van Lill (45), 7 Janco Venter (19), 6 Wian Conradie (10), 5 Tjiuee Uanivi (21), 4 Ruan Ludick (12), 3 Aranos Coetzee (14), 2 Obert Nortjé (6), 1 Casper Viviers (29). Bank: 16 Louis van der Westhuizen (14), 17 André Rademeyer (0), 18 Desiderius Sethie (4), 19 Johan Retief (3), 20 Rohan Kitshoff (37), 21 Damian Stevens (15), 22 PW Steenkamp (0), 23 Justin Newman (7).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Proudly Namibian ·

Wat kan ons sê, Proudly Namibian, wens net soms jul kon ook die ondersteuning en hulp gehad het om net opgebou te word en heeltyd rugby te speel, soms moet hierdie mannetjies nog ‘n beroep tussendeur juggle om te oorleef. Jul het baie goeie kwaliteite, laat waai jul plek oop om wêreldbeker toe te gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.