Afrika-rugby mik na topdrie in uitdagende 2017

Coralie van den Berg – “… waterskeiding vir Afrika-rugby”. (Foto: Rugby Afrika)

Vanjaar kan ʼn waterskeidingjaar vir rugby in Afrika wees wat dié sportsoort onder die gewildste drie op die vasteland kan vestig.

Só glo Coralie van den Berg, die hoofbestuurder van Rugby Afrika (RA), die gewestelike beheerliggaam van die spel.

Sokker, krieket, langafstandwedlope en boks is rugby se vernaamste mededingers.

Van den Berg het aan Pale Toe! gesê 2017 gaan ʼn uitdagende jaar wees, maar dit sal eweneens baie opwinding meebring.

“Ons nuwe reeksprogram, wat pas bekend gestel is, is ʼn belangrike baken in die ontwikkeling van ons organisasie.

“Met die sluit van ʼn uitsaai-ooreenkoms van vyf jaar met Kwesi Sports – die nuwe Pan-Afrikaanse TV-kanaal – het RA inderdaad seker gemaak van die uitbouing van sy topreeks, die Rugby Afrika- Goue Beker. Die reeks was voorheen as die Afrikabeker 1A bekend.”

Van den Berg sê ses spanne sal 15 wedstryde in ses weke speel om die ondersteuners meer en beter rugby te bied.

“RA beoog om met die nuwe formaat die bewustheid en gewildheid van die spel regoor Afrika te bevorder.

“Daar word ook vertrou dat die groter wedstrydblootstelling wat Afrika se toplande sal geniet, die peil van die spel sal verhoog, en ʼn mededinginder reeks in die hand sal werk.”

Beste moontlike span

Sy sê aanstaande jaar se wenner van die Rugby Afrika-Goue Beker sal vir die komende toernooi om die Wêreldbeker in aanmerking kom, en RA se doelwit is om die beste moontlike span naas Suid-Afrika na die toernooi te stuur.

“Die ander lande kry insgelyks die geleentheid om toetsrugby te speel met die Rugby Afrika-Silwer- en Bronsbeker, en die streekuitdaagreekse.

“Die promosie-relegasiestelsel tussen elk van die reekse spoor die spanne aan om na toelating tot die topreeks te streef.”

Van den Berg sê RA belê in sy reekse, en in ander sleutelfasette soos om die spel aantrekliker en lekkerder vir almal te maak; om die peil van die spel en die Afrikareekse te verhoog; en om die liggaam se ontwikkelings- en voetsoolprojekte te steun.

382 000 bereik

“Verlede jaar alleen het die monsterveldtog “Get Into Rugby” oor die 382 000 potensiële spelers bereik.

“RA brei sy moontlike spelerspoel geweldig uit, en wen jaarliks toenemende getalle geesdriftiges.

“Ons ontwikkelingsbeamptes en opleidingsbestuurders steun ons 38 lidunies met hul programme om die plaaslike personeel te bemagtig, behoorlike strukture vir die bevordering van die spel daar te stel, en voorkeur aan spelerswelsyn te verleen,” het sy gesê.

Lees meer oor die herskikking van die Afrikareekse by https://maroelamedia.co.za/sportnuus/rugby/namibie-speel-3-tuis-in-vergrote-afrikareeks/.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.