Afrika se Goue Beker: Kenia kry 100, Namibië 95

Kenia het Saterdag 100 punte en Namibië 95 in Rugby Afrika (RA) se reeks om die Goue Beker opgestapel.

Albei spanne het 15 drieë gedruk.

Kenia, wat deur die Suid-Afrikaner Jerome Paarwater afgerig word, het Tunisië in Nairobi met 100-10 verdelg (rustyd 46-10); en Namibië het Senegal in Windhoek met 95-0 verbrysel (rustyd 36-0).

Die vraag duik onwillekeurig op of dit wys van die vasteland se beheerliggaam was om die reeks van vier tot ses deelnemers uit te brei. Die tyd sal leer.

♦ Die Namibiese kaptein, Rohan Kitshoff, het sy driekuns die vorige week teen Tunisië met ʼn vierkuns teen Senegal opgevolg.

Lesley Klim (twee), Adriaan Booysen, Louis van der Westhuizen, AJ de Klerk, Justin Newman, JG Greyling, Thomasu Forbes, Johann Tromp, Theuns Kotzé en Darryl de la Harpe het die res van die Biltongboere se drieë gedruk.
Eugene Jantjies het ses en Kotzé vier daarvan verdoel.

Namibië moes die grootste deel van die wedstryd met 14 man klaar kom nadat die haker, Van der Westhuizen, met die telling op 19-0 ʼn rooi kaart gewys is.

♦ Darwin Mukidza het 31 van Kenia se punte met twee drieë, nege doelskoppe en ʼn strafdoel aangeteken.

Jacob Ojee het drie drieë vir die wenspan gedruk, en Eric Kerre twee.

Silwerbeker

♦ In Casablanca, Marokko, het die tuisspan RA se Silwerbeker gewen deur Ivoorkus in ʼn genadelose eindstryd met 8-3 te klop. Marokko was rustyd met 3-0 voor.

Madagaskar het die derde plek ingeneem deur Botswana ʼn skrobbering van 47-19 te gee.

Marokko het vroeër die week met 57-33 teen Madagaskar gewen, en Ivoorkus het Botswana met 58-28 opgekeil.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.