Afsondering: Ballet kan rugbyspelers fiks hou

Ballet en ander dansbewegings kan ’n rugbyspeler van groot hulp wees. Foto: Pixabay.

’n Rugbyspeler wat in sy vrye tyd ’n bietjie ballet doen, is dalk vir baie mense net so ’n rare verskynsel soos ’n eerlike politikus, maar ’n onlangse navorsingstudie by die Universiteit Stellenbosh het getoon dat ’n tikkie ballet net voordelig vir ’n hardebaard-haker mag wees.

Jocelyn Solomons, wat onlangs haar meestersgraad in Sportwetenskap behaal het, het bevind dat daar ’n hele rits rugbyvoordele in ballet en dans versteek is.

“Deur ritmiese bewegings by hul oefenprogram in te sluit, kan rugbyspelers hul soepelheid, ratsheid, spieruithouvermoë en dinamiese balans verbeter. Dit help natuurlik om hul postuur stabiel te hou terwyl hulle beweeg,” het Solomons gesê.

Sy het spelers van die Stellenbosch- en WP-rugbyakademie nadergetrek om vir 16 weke aan haar projek deel te neem. Hoewel hulle aanvanklik maar bra skepties was, het Solomons hulle oorgehaal toe sy vir hulle ’n video wys waar die Wigan Warriors-rugbyspan in Engeland ballet deel van hul oefenprogram gemaak het.

As deel van die studie het die spelers – van die stadigste stut tot die ratste regtervleuel – verskeie ritmiese bewegings as deel van hul oefenprogramme uitgevoer.

Die bewegings was spesifiek op hul soepelheid, ratsheid, krag en uithouvermoë gemik en die oefeninge het onder meer ballet, salsa, moderne dans en komponente van die fokstrot, wikkeldans en polka ingesluit. Dan is daar ook verskeie strekoefeninge gedoen.

Jocelyn Solomons is tans ook ingeskryf as ’n doktorale student by die Universiteit van Stellenbosch. Foto: Verskaf.

“Die spelers se krag en sommige lokale spieruithouvermoë en biomotoriese vaardighede het statisties aansienlik verbeter van vóór tot ná die behandeling. Toe die agter- en voorspelers vergelyk is, het hul ratsheid en krag ook statisties aansienlike verbeterings getoon,” het sy gesê.

Die oefeninge het hulle byvoorbeeld gehelp om oefenballe verder vanaf ’n sittende posisie te gooi, terwyl hul plofkrag ook aansienlik toegeneem het. Hulle kon ook meer opsitte en optrekke in twee minute doen, terwyl ’n tegniese oefening soos pistol squats ook makliker geword het.

“Met ander woorde, ritmiese bewegings kan as ’n instrument gebruik word om opwarming te doen, as ’n kondisioneringsmetode om spesifieke biomotoriese vaardighede te verbeter, of, indien nodig, met ’n speler se herstelproses help.”

Maar Solomons sê dit sal regdeur die seisoen toegepas moet word om werklik doeltreffend te wees.

Volgens Solomons kan spelers van enige ouderdom hierdie bewegings by hul oefenprogram inwerk. ’n Soortgelyke program is reeds met welslae by sokkerspanne se oefenreeks ingelyf.

“Enigiemand van enige ander sportsoort kan ritmiese bewegings by hul oefenprogram insluit, solank hulle die bewegings van die spesifieke sportsoort naboots.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rina ·

Baie dankie Jocelyn!
Ek het die artikel en wat jy gedoen het in jou navorsing, baie geniet!
My dogtertjie doen al ballet vandat sy 5 is.
Sy is nou 10. Ek oefen nou en dan Saam by die huis! Mense, dis Baie moeik! En jou maag spiere en Ander spiere (wat ek al van vergeet het van), werk Alles Saam! Ek het self ook ballet op skool gehad!
Ek laat haar boetie, Wat ook rugby speel, in die tyd Saam met haar oefen.
Baie goeie oefening en goed vir die postuur!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.