Ag, wat ʼn rugbyfees sou dit nie wees nie

Ag, wat ʼn rugbyfees sou dit nie wees nie, is seker Saterdag die versugting van die meeste Suid-Afrikaanse rugbyondersteuners.

Suid-Afrika speel hier te lande in ʼn toets teen Nieu-Seeland; die Curriebekerreeks is op ʼn mespunt gebalanseer; die Curriebeker- Eerste Liga is van sleutelstryde deurspek; die hoogste klubreeks stuur op ʼn dramatiese einde van die groepfase af, en belowe die een na die ander rillerstryd.

Dis om die minste te sê ʼn indrukwekkende spyskaart.

Wat meer kan rugbymal ondersteuners begeer?

Dink maar aan die hoendervel wat só ʼn program ʼn mens ʼn paar dekades gelede sou besorg.

Eintlik ook nie, want destyds sou soveel lekkerte in der ewigheid nie in dieselfde naweek ingeprop word nie. Die geesdriftiges sou dit happie vir
happie kon geniet.

Helaas, rugby in 2017 is ʼn ander storie: ʼn gees van depressie eerder as opwinding is tussen die rugbypubliek vaardig.

Springbokrugby is op ʼn allerlaagste punt; die Curriebekerreeks en sy kleinboet is onrusbarend verwater; die klubreeks vaar dalk die beste, maar die (enkele?) Bok wat nog daar speel, haal nie eens meer ʼn provinsiale span nie.

Die room van Suid-Afrikaanse rugby word deur dik buitelandse beursies en ander faktore oorsee gelok; politiek en ʼn belaglike kwotastelsel beduiwel die kies van merietespanne; ʼn verwronge benadering in skolerugby sorg dat ons spelers se vaardighede swak ontwikkel word.

Gebrekkige administrasie

Bowenal lei ʼn wydlopende en diepgaande gebrek aan kragdadige en bekwame rugbyadministrateurs daartoe dat niks gedoen word om sake reg te stel nie.

Te veel mense wat hulle met rugby bemoei, gee nie ʼn snars vir die toekoms van die spel om nie. Hulle het ander sakelyste.

Wat gaan wie daaromtrent doen?

Behalwe ʼn stortvloed van kritiek, slegsêery, en dies meer, gaan daar waarskynlik geen hand gelig word om die uitvaart van die spel plaaslik te
stuit nie.

Vaarwel, Suid-Afrikaanse rugby, mag jy in vrede rus …

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Piet de Jager ·

Ja Piet
Ons bly die enigeste land in die hele wêreld wat nie ons beste 15 mag kies nie MAAR rugby het nog nie krieket geleer hoe om die “kwotaspook” te hanteer nie. Krieket ontwikkel speler en faseer hulle geleidelik in wanneer hulle die regte spelpeil bereik het, en laat hulle weg wanneer hulle nie goed genoeg is nie. Rugby sit met oorgewig onfikse spelers (veral voorspeler) wat eerder weer moet gaan klubrugby speel.
En toe doen Rudi Joubert en sy Valke dit weer: bars die Luiperds se “babbel” vir die soveelste keer.

JG ·

Piet , jy moet onthou met krieket kan jy swak skakels beter weg steek by rugby staan n swak skakel uit soos n seer vinger!

Theuns ·

Ja Piet.
Dit is miskien tyd dat die trotse embleem ook gebêre word, voordat dit heeltemal onder die modder verdwyn. Dit sal seker die eerbare administrateurs se beursies te seer maak.

Chris Ws ·

Ek hoop regtig die bokkies speel in EFF se kleure.Dan word die springbok embleem darem nie weer onteer nie!ha-ha!

Callie ·

Wil die skrywer bedank vir die absolute feitlike berriggewing. Baie meer daarvan nodig. Sal saam met jou terugstaan, die eens grote game salueer en groet. In SA is die game verdoem tot ondergang

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.