Ag, wat sal ons vir 1970 op Loftus gee

ciprusAl ooit gehoor van `n moeflon?

Dis `n bergskaap met horings, Ciprus se nasionale dier en ook hoe dié land se rugbyspan bekend staan.

Hoewel die All Blacks (weer) nader kruip aan die wêreldrekord van 18 agtereenvolgende toetsoorwinnings (teen die wêreld se topvlak-spanne), hou Ciprus die algehele rekord van 24 agtereenvolgende oorwinnings in toetse.

Die Moeflons, wat die eerste keer in 2007 `n toets gespeel het toe hulle Griekeland voor sowat 2 500 toeskouers 39-3 geklop het, het volgens ESPN Scrum tussen 29 November 2008 (toe hulle Azerbeidjan geklop) en 1 November 2014 (toe hulle Andorra getroef het), 24 oorwinnings opeenvolgend behaal. Maar toe bederf Litoue hul partytjie.

Die All Blacks, ondanks die feit dat hulle verskeie staatmakers soos Richie McCaw, Dan Carter, Ma’a Nonu, Conrad Smith en Keven Mealamu (saam het hulle in meer as 800 toetse gespeel) moet klaarkom, het sedert verlede jaar 15 oorwinnings behaal. As hulle die die Poemas in Buenos Aires, die Bokke op Kingspark en die Wallabies in Auckland klop, verbeter hulle hul eie rekord, asook dié van die Bokke, wat tussen 1997 en 1998 ook 17 keer opeenvolgend onoorwonne was.

Loftus se wenspan van 1970.

Loftus se wenspan van 1970.

Die Bokke se aanslag het op 23 Augustus 1997 op Loftus Versfeld begin toe hulle die Wallabies 61-22 vermorsel het. Dit was Carel du Plessis se laaste toets as Bok-breier, want voor die toets is daar reeds besluit om van hom ontslae te raak. Die nuus is aan die Kaapse media uitgelek en ek onthou nog die koerantplakke buite Loftus se lamppale: “Carel, jy’s gepos!”

Dit het die Bokke aangespoor, want dié dag het hulle die rugby opgedis wat Du Plessis bepleit het, maar dit was te laat.

Du Plessis is deur Nick Mallett vervang, wat ek steeds beskou as een van die land se beste afrigters in die geskiedenis. Onder Mallett was die Bokke 16 keer agtereenvolgens onoorwonne en saam met Du Plessis se sege het die Bokke die wêreldrekord van die All Blacks tussen 1965 en 1969 geëwenaar. Maar toe bederf Engeland die Boke se partytjie op 5 Desember 1998 toe hy 13-7 gewen het.

♦ Ironies genoeg het die Bokke die All Blacks in 1965 in die derde toets in Christchurch geklop. Die All Blacks het die vierde toets in Auckand gewen en was toe 17 keer aan die wenkant voordat hulle in die eerste toets in 1970 op Lotftus teen die Bokke verloor het.

Ai, hoe verlang ons nie terug na daardie dag nie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.