Agt in ’n ry vir Gatland se Chiefs

Warren Gatland. (AP Photo/Mark Baker)

Die “30 000-vyf-in-’n-ry” was een van die gewilder speletjies op Johann Stemmet se Noot vir noot-programme. Om dit in ’n neutedop te verduidelik: As jy al vyf agtereenvolgende liedjies reg geraai het, het jy met ’n lekker kontantprys weggestap.

Warren Gatland wens seker ook deesdae dat hy net ’n kleurvolle onderbaadjie hoef aan te trek om sy span met ’n vrolike “50 randjies vir jou!” te motiveer. Want  anders as met genoemde vasvra-speletjie is die Chiefs se agtereenvolgende rekord (as jy wil) nie eintlik iets om op trots te wees nie: Hulle het Saterdag hul agtste agtereenvolgende nederlaag gely toe die Crusaders hulle met 32 – 19 in Waikato getroef het.

Die span van Hamilton het tot dusver al sewe van hul wedstryde in die Aotearoa-reeks verloor, terwyl hulle ook hul laaste kragmeting in die “gewone” Superrugby-kompetisie verloor het.

En hoewel die besoekers oudergewoonte weer eens drieë laat in die wedstryd gedruk het en die bal hier en daar net baie verkeerd vir die Chiefs gebons het, moet Gatland seker al wonder waar en wanneer sy span ’n wedstryd sal wen.

Die druk is ongetwyfeld op die “beste afrigter nóg”.

  • Puntemakers:

Crusaders: Drieë: Tom Sanders, Will Jordan, Codie Taylor, Sevu Reece en Leicester Fainga’anuku. Doelskoppe: Richie Mo’unga (2). Strafskop: Mo’unga.

Chiefs: Drie: Lachlan Boshier. Doelskop: Damian McKenzie. Strafskoppe: McKenzie (4).

  • In Dunedin het die Blues die Highlanders met 32 – 21 geklop om hul bekerdrome lewend te hou.

Beauden Barrett het weer eens die no. 10-trui gedra en hy het weer eens ’n uithalervertoning gelewer.

Die besoekers het uiteindelik vyf drieë teenoor die twee van die Highlanders gedruk.

  • Puntemakers:

Blues: Drieë: Finlay Christie (2), Akira Ioane, TJ Faiane en Ofa Tu’ungafasi. Doelskoppe: Beauden Barrett (2). Strafskop: Barrett.

Highlanders: Drieë: Ash Dixon en Shannon Frizzell. Doelskop: Josh Ioane. Strafskoppe: Ioane (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans ·

Brodie Retallick se afwesigheid is duidelik en sonder hom kom die span nie die mas op nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.