Agt spelers uit Suider-Afrika in Sesnasiesreeks

Agt spelers wat in Suider-Afrika gebore is, is ingesluit in die groepe vir die Europese Sesnasiesreeks wat Saterdag afskop.

Verlede jaar het slegs die Suid-Afrikaans-geborenes agt getel.

Ierland het drie wat in Suid-Afrika gebore is, by name CJ Stander (flank, wat reeds in 19 toetse vir die Iere gespeel het), Quinn Roux (slot, drie toetse) en Rob Herring (haker, drie toetse).

Stander is in George gebore, Roux in Pretoria en Herring in Kaapstad.

Skotland se Cornell du Preez (vyf toetse) is in Suid-Afrika gebore, David Denton (35 toetse) in Zimbabwe, en Byron McGuigan (twee toetse) in Namibië.

Du Preez is in Port Elizabeth, Denton in Marondera en McGuigan in Walvisbaai – tydens sy geboorte in 1989 nog deel van Suid-Afrika – gebore.

Van Italië se flanke is Braam Steyn (17 toetse) in Suid-Afrika en Sebastian Negri (twee toetse) in Zimbabwe gebore.

Steyn is in Cradock gebore en Negri, nes Denton, in Marondera, ʼn dorp oos van Harare wat vroeër as Marandellas bekend gestaan het.

Du Preez en McGuigan is albei in die Skotse opdrafspan vir Saterdag se toets teen Wallis.

Ierland en Italië het nog nie hul spanne aangekondig vir hul onderskeie kragmetings Saterdag teen Frankryk en Sondag teen Engeland nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.