Agt van SA in sterk Baabaas-groep teen All Blacks

Daar is net een Springbok onder die agt Suid-Afrikaanse spelers wat genooi is om vir die Britse Barbarians teen die All Blacks en Tonga op hul jaareindtoere na Europa te speel.

Die Baabaas speel Saterdag op Twickenham teen die All Blacks en aanstaande Vrydagaand teen Tonga op Thomondpark in Limerick.

Verlede jaar se Bokkaptein Adriaan Strauss is saam met vyf spelers wat die afgelope weke nog hul rugby in Suid-Afrika gespeel het, in die Baabaas se groep van 26.

Gloucester se losvoorspeler Ruan Ackermann en Willie Britz, wat vanjaar vir die Sunwolves gespeel en hulle selfs aangevoer het en nou klaarblyklik voltyds in Japan speel, is ook in die groep.

Die voormalige Gimmie en vanjaar se Brumbiesstut Ruan Smith (nou by Toyota Verblitz) is ook ʼn genooide. Smith speel al die afgelope 10 jaar oorsee en het onder meer meer as 50 wedstryde vir die Brumbies gespeel en ook die Australiese skolespan verteenwoordig. Hy kan egter nie werklik as ʼn Suid-Afrikaanse speler beskou word nie.

Suid-Afrikaanse spelers, met hulle oorsese spanne waar toepaslik –
Ruan Ackermann (Gloucester), Kwagga Smith (Lions), Adriaan Strauss (Bulls), Akker van der Merwe (Sharks), Jacques van Rooyen (Lions), Robert du Preez (Stormers), Harold Vorster (Lions), Willie Britz (Sunwolves).

♦ Dit is ʼn besonder sterk span wat deur die oud-Wallaby-afrigter Robbie Deans vir die wedstryde voorberei word.

Dit wemel van Nieu-Seelanders wat óf nou hul rugby oorsee speel óf nie in die All Blacks se toergroep is nie.

Die bekendste van die 13-tal Kiwi’s is seker die makro-vleuel Julian Savea wat in onguns verval het, die twee Wêreldbekerwenners, stut Ben Franks (London Irish) en skrumskakel Andy Ellis (Kobelco Steelers), en ook die slot/flank Steven Luatua (Bristol).

Die sterk Wallaby-vleuel Taqele Naiyaravoro – hy weeg 123 kg – en die Aussies se slot Sam Carter tel ook onder die genooides.

Barbarians – 

Voorspelers
Ruan Ackermann (Gloucester)
Dominic Bird (Chiefs en Nieu-Seeland)
Willie Britz (Sunwolves)
Sam Carter (Brumbies en Australië)
Simone Favaro (Fiamme Oro)
Ben Franks (London Irish en Nieu-Seeland)
Dillon Hunt (Highlanders)
Steven Luatua (Bristol en Nieu-Seeland)
Atu Moli (Chiefs)
Kwagga Smith (Lions)
Ruan Smith (Toyota Verblitz)
Adriaan Strauss (Bulls en Suid-Afrika)
Akker van der Merwe (Sharks)
Jacques van Rooyen (Lions)
Luke Whitelock (Highlanders en Nieu-Seeland) 

Agterspelers
Vince Aso (Hurricanes)
George Bridge (Crusaders)
Richard Buckman (Highlanders)
Mitchell Drummond (Crusaders)
Robert du Preez (Stormers)
Andy Ellis (Kobelco Steelers en Nieu-Seeland)
Richie Mo’unga (Crusaders)
Taqele Naiyaravoro (Waratahs en Australië)
Julian Savea (Hurricanes en Nieu-Seeland)
Nic Stirzaker (Rebels)
Harold Vorster (Lions)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.