Agttal met 5 uit SA gee deurslag vir Duitsland

Duitsland se agttal met vyf Suid-Afrikaners in sy geledere het die deurslag vir die span se sege Sondag in die Pierre Delort-stadion in Marseille, Frankryk, oor Hongkong gegee.

Die Swart Adelaars het die kragmeting in die heruitdun met die oog op aanstaande jaar se toernooi in Japan om die Wêreldbeker (WB) met 26-9 gewen. Kanada het sy botsing teen Kenia met 65-19 gewen.

Eersgenoemde was aanvanklik ʼn gelykop stelskopstryd tussen twee losskakels uit Suid-Afrika, Raynor Parkinson (Duitsland) en Matt Rosslee (Hongkong). Albei was drie keer in die kol.

Parkinson, wat deur ʼn kommentator as ʼn briljante strateeg, geloof is, moes kort voor rustyd behandeling vir ʼn sny in sy gesig ontvang.

Christopher Hilsenbeck (heelagter) het in sy afwesigheid met ʼn strafdoel geslaag.

Die Duitse voorhoede – met onder andere die Suid-Afrikaners Kurt Haupt (haker), Michael Poppmeier (slot en kaptein), Sebastian Ferreira, Jaco Otto en Jarrid Els (losvoorspelers) – het die Hongkongers stelselmatig uitgeput en ná 60 minute was hul blus uit.

Die nuweling Haupt het een van die wenspan se twee drieë gedruk, en Parkinson, het albei verdoel vir ʼn persoonlike bydrae van 13 punte.

Poppmeier het in ʼn onderhoud ná afloop van die wedstryd sy span se sukses aan veggees, geloof en deeglike voorbereiding toegeskryf.

♦ DTH van der Merwe, die Kanadese toetsvleuel wat op Worcester in die Boland gebore is, het sy kant gebring om sy droom van ʼn vierde Wêrelbeker-toernooi te verwesenlik.

Hy het drie drieë teen Kenia gedruk om sy Kanadese rekord tot 35 op te skuif.

Sy span het die Keniane met 65-19 verniel, en was teen rustyd met 27-12 voor. Die vier drieë vir ʼn Kanadese bonuspunt was toe reeds op die telbord.

Dis slegs die tweede keer die afgelope tien jaar dat Kanada meer as 50 punte in ʼn toets haal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.