Agttien veg nog om vier Wêreldbekerplekke

Agttien lande ding nog mee om die vier oorblywende plekke in 2019 se toernooi om die Wêreldbeker (RWB) noudat Uruguay sy plek verseker het.

Dié 18 is België, Duitsland, Hongkong, Kanada, Kenia, Maleisië, Marokko, Namibië, Portugal, Roemenië, Rusland, Samoa, Spanje, Suid-Korea, Tahiti (ja, Tahiti), Tunisië, Uganda en Zimbabwe.

Daar is twee plekke elk oop in Groep A en Groep B.

Van dié aanspraakmakers het Kanada en Roemenië tot dusver aan al agt RWB-toernooie deelgeneem; Samoa was sewe keer daar; Namibië vyf keer; Zimbabwe twee keer; en Portugal, Spanje en Rusland elk een keer.

Groep A

Wat Groep A betref, gaan die beskikbare plekke aan Europa 1 en aan die uitspeelwenner.

Europa 1 is tegnies die span wat vanjaar die Rugby Europa-beker wen, maar omdat die gunsteling, Georgië, reeds sy plek bespreek het, sal dit, ingeval hy wel wen, die span wees wat tweede in die reeks eindig.

België, Duitsland, Roemenië, Rusland en Spanje is die aanspraakmakers in hierdie geval, en die suksesvolle span sal in die openingswedstryd teen die gasheer, Japan, speel.

Om die uitspeelwenner te bepaal, sal Europa 2 (die span wat derde eindig as Georgië een van die eerste twee plekke beklee) eers teen Portugal speel. Dié was verlede jaar laaste in die bekerafdelig, en is na die Rugby Europa-uitdaagreeks afgeskuif. Die span wat die kragmeting wen, sal teen Samoa (Oseanië 3) te staan kom om die vyfde span in Groep A te bepaal.

Ierland, Skotland en Japan se plekke in dié groep is reeds bespreek.

Groep B

Die vakatures in groep B wag op Afrika 1 en die wenner van die heruitdun.

Afrika 1 is die wenner van Rugby Afrika se Goue Beker, ʼn reeks wat in die jongste tyd deur Namibië oorheers is, wat weer na die gunsteling lyk.

Die ander deelnemers is Kenia, Marokko, Tunisië, Uganda en Zimbabwe.

Kenia (Jerome Paarwater) en Uganda (John Duncan) word deur Suid-Afrikaners afgerig, en dit lyk of die gewese Springok-afrigter Peter de Villiers eersdaags die leisels by Zimbabwe kan oorneem.

Vier lande, wat Kanada (Amerika 3) insluit, sal op rondomtaliegrondslag aan die gesentraliseerde heruitduntoernooi deelneem. Die ander drie is die land wat tweede in die Afrikareeks eindig, die verloorder in die Europa-Oseanië-uitspeelstryd, en die wenner van ʼn Asië-Oseanië-uitspeelstryd.

Tahiti (85ste op Wêreldrugby se ranglys) sal Oseanië in laasgenoemde verteenwoordig nadat hy vroeër verrassend die Cook-eilande geklop het om die Oseaniëbeker in te palm. Hy kom te staan teen wie ook al van Hongkong, Maleisië of Suid-Korea die beste ná Japan in die Asiatiese kampioenskap vaar.

Nieu-Seeland, Suid-Afrika en Italië is die ander lande in Groep B.

Die res

Die samestelling van Groep C en Groep D is reeds afgehandel.

Engeland, Frankryk, Argentinië, Amerika en Tonga vorm Groep C; en Australië, Wallis, Georgië, Fidji en Uruguay Groep D.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.