Ai, as die broodkrummels darem genoeg is

Enige toetsoorwinning weg van die huis af is nie te versmaai nie, maar as jy vyfde in die wêreld is en klop die span wat agtste is met net een punt,  wys dit dat net van die krake toegesmeer is.

Nietemin, die Springbokke het die Franse Saterdagaand in Parys met 18-17 geklop nadat hulle rustyd met 8-7 voor was.

Was daar enige verbetering ná verlede Saterdag se pak slae teen Ierland?

Ja, maar dan was enigiets straks ʼn verbetering na daardie swak vertoning.

Wat duidelik is, is dat Frankryk in dieselfde bootjie as die Springbokke is. Die Hane is ook gestroop van hul selfvertoue en is ook swak afgerig; die afrigter, Guy Noves, is ook in die spervuur en hulle voer hul basiese vaardighede ook nie reg uit nie – en hulle het nie meer die spelskeppers en spelbrekers van ouds soos Philippe Sella, Serge Blanco, Jean-Luc Sardourny en Emile Ntamack nie.

Terug by die Bokke. Het Handré Pollard, Francois Venter en Duane Vermeulen enige merkbare verskil gemaak?

Pollard het vlakker as Elton Jantjies gespeel en het die voordeellyn aangeval, maar sy skopwerk pale toe? Eina.

Venter het beter gevaar as Damian de Allende, maar wie sou nie?  Hy het tog kanse vir Jesse Kriel geskep en soms het die Bokke se agterlyn gevaarlik gelyk.

Die grondslag is voorlangs deur Vermeulen, Francois Louw en Malcolm Marx gelê. Lood de Jager was ook vol vuur en Wilco Louw het stewig geskrum.

Vir die eerste keer in maande het die pak gedryf en gerolmaal; vir die eerste keer is hulle net een keer in die skrums gestraf en vir die eerste keer het hulle die stryd in die lynstane en om die losbal gewen.

En Allister Coetzee?  Sy posisie is ver van veilig af, want dit was maar net sy tweede oorwinning weg van die huis af.

Daar is steeds baie tekortkominge, ʼn gebrek aan selfvertroue en verkeerde besluitneming.

Die agterste driehoek weet steeds nie wie die hoë hangskoppe gaan bemeester nie en Teddy Thomas het by ʼn paar geleenthede darem te maklik die Bokke se agter- (en ʼn paar voorspelers) na lug laat gryp.

Maar nou ja, as ʼn mens met min tevrede is, is die broodkrummels sekerlik baie welkom.

Puntemakers –

Suid-Afrika (8) 18: Drieë: Dillyn Leyds, Jesse Kriel. Doelskop: Handré Pollard. Strafdoele: Pollard 2

Frankryk (7) 17: Drieë: Anthony Belleau, Baptiste Serin. Doelskoppe: Belleau 2. Strafdoel: Belleau.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Veritas ·

Wat sou die rede vir die wen wees ? Dit kan nie afrigting of motivering wees nie aangesien dit ‘n week gelede presies dieselfde was. Dit laat net die spelers wat verander het. Aldrie nuwelinge het ‘n verskil gemaak. Die grootste rede is egter die teenstand. Daar is ‘n reuse verskil tussen Ierland en Frankryk. Ek is nog gladnie oortuig dat die spelpatroon die regte een is nie. Ons staan ons man voorlangs maar kan nie domineer nie. Dít is waar toetse gewen of verloor word.

Niklaas ·

‘n Wen is eintlik al wat nodig was. Ek dink egter Curwin Bosch op heelagter sal beter aanval en ook skopper opsie wees.

Stephen. Namibia ·

SA moet nie geld mors met n nikswerd afrigter. Laat die spelers liewer agt ure per dag na All Black wedstryde op video kyk en leer hoe die spel van Rugby gespeel moet word.

Frans C ·

En toe word meeste balbesit nog net so doelloos weggeskop.Wat ‘n mens wel kan wys word is dat lande met NZ en Australiese afrigters se rugby met rasseskrede verbeter,terwyl die lande wat nog vasklou aan afrigters uit eie geledere maar redelik sukkel.

Dit lyk darem of Ackerman ‘n uitsondering op die reël is en sy span nou in derde posisie het, al is dit ook ‘n klubspan.

Oudste ·

Kalmeer Toetie, kalmeer. Die All Blacks soek nie ‘n nuwe afrigter nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.