Ai, waar is Naas, Monty en Morné tog?

Morne Steyn (Foto: stuff.co.nz)

Dit was oor die jare heen nog altyd een van die Springbokke se grootste bates: ’n dodelike stelskopper.

Is dit nie een van die huidige Springbokspan se hoofpyne nie?

Hopelik is dit net tydelik; of hopelik kan Handré Pollard sy selfvertroue herwin of verg dit slegs ’n klein aanpassing?

Tot dusver kon Pollard met slegs 36% van sy pogings in die Rugbykampioenskap slaag, vergeleke met Nicolas Sanchez van Argentinië (87%), Bernard Foley van Australië (75%) en Beauden Barrett van Nieu-Seeland (69%).

Dit is beslis nie goed genoeg op internasionale (of enige) vlak nie, want dit was nog altyd een van Suid-Afrika se grootste bates: stelskoppers sonder weerga.

Noem hulle maar op: Okey Geffin, Ian McCallum, Gerald Bosch, Naas Botha, Percy Montgomery, Morné Steyn en ’n rits ander.

Wanneer die Bokke reeksoorwinnings behaal het, ’n Drienasies-toernooi of ’n Wêreldbeker-toernooi gewen het, het die doelskoppers ’n baie groot rol gespeel.

Toe die Bokke in 1949 die All Blacks met 4-0 geklop het, het die (vaskopstut) Okey Geffin 32 van die Bokke se 47 punte (68% persent van die puntetotaal) met die skoen aangeteken.

McCallum het in 1970 35 van die Bokke se 59 punte (59.3%) teen die All Blacks aangeteken toe die Bokke die reeks met 3-1 gewen het.

In 1976 het Bosch 39 van die Bokke se 55 punte (70.9%) in die reeks teen die All Blacks bygedra, wat die Bokke met 3-1 gewen het.

Só het Botha in 1980 die Britse Leeus met 24 punte gekelder; in 1981 het hy in die drie toetse teen die All Blacks 35 punte aangeteken (hoewel die Bokke die reeks verloor het) en in 1986, toe hy, na alle waarskynlikheid, op die kruin van sy loopbaan was, was hy vir 52 punte in vier toetse teen die Nieu-Seelandse Kavaliers (eintlik maar die All Blacks) verantwoordelik om die Bokke tot nóg ’n reeksoorwinning te voer.

Montgomery het in 2007 se Wêreldbeker-toernooi, wat die Bokke gewen het, 115 punte aangeteken.

Steyn het in 2009, toe die Bokke die Britse en Ierse Leeus in die reeks geklop het, 28 punte bygedra. Hy het voortgegaan en 95 punte in die Drienasies-reeks van 2009 aangeteken wat die Bokke gewen het.

Kan die huidige Bokke die Wallabies en All Blacks sonder ’n betroubare stelskopper aandurf?

Nee, maar wie kan die skopwerk by Pollard oorneem?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Bul ·

Stem Anna. Daai Bokspan wat ’81 NZ toe getoer het, die “betogertoer”. Daai ouens het geweet van: Johan Heunis, Ray Mordt, Danie Gerber, Gerrie Germishuys, Naas Botha, Divan Serfontein, Wynand Claasen, Rob Louw, Theuns Stoffberg, Louis Moolman, Div Visser, Okkie Oosthiuzen, Willie Kahts, Hennig van Aswegen. Derde toets in Auckland, of die “meelbom toets” – sal nooit weer sulke Bokke sien nie. Het wel verloor agv belaglike besluit, maar nooit weer sulke durf op ‘n rugbyveld gesien nie. Tot vandag toe trots op DAAI bokke. Vandag se bontebokke – verloor teen Argentinie en Japan. Daar kom 60 punte op hulle van die All Blacks die jaar.

Henry ·

Waar is Naas?
Loop kuier hy deesdae saam met Willemse wanneer hule veronderstel is om kommintaar oor die rugby moet lewer?
Wat kan nog verkeerd gaan???

Dienkie ·

Wat was nou mooier as ‘n goeie skepskop (vandag se skoppers waag dit net nie meer nie of is dit ‘n kwessie die skoppers beskik nie meer oor daardie besonderse vaardigheid nie.) Naas Botha was absoluut die beste skepskopper.

Johan ·

Naas bly maar die koning. Hyt nog gespeel met n hart. Nie met n beursie vol geld nie. All Blacks kraai koning

PJC ·

Hoekom het Rassie nie vir FAF die skopwerk laat doen toe Handre nie regkom nie. Hierdie kon defnitief nie goed wees vir sy selfvertroue nie.

Lukie Carelsen ·

Naas Botha is ongetwyfeld die 2de beste rugbyspeler in die geskiedenis!
Hy is die ENIGSTE losskakel wat agter ‘n verloorpak kon speel en nog steeds die wedstryd dikteer en WEN!
(Net ingeval almal nou wil weet wie die no 1 rugbyspeler is, wel “hy moet nog gebore word”!)

Bul ·

Beste ooit: Gareth Edwards, Danie Gerber, Dan Carter, Jonny Wilkinson, Naas Botha.

LHS ·

Maklik, om Pollard te vervang. Doen net die regte ding en gaan haal die beste span in die land se spelers.

Marietjie ·

Indien Pollard so swak skop hoekom gee hulle dan nie maar vir Jantjies n kans nie. Hy het tog die Leeus gehelp tot by die semi finaal. Daarna kan ons bepaal wie is regtig die beste van die twee .

bloues ·

As ek reg onthou het keurders van doerie tyd die span gekies en dan moes die afrigter met daardi spelers ‘n span bou. Daadie spanne kon wen en was n faktor in wêreld rugby. Miskien moet dit weer so wees?

Anna ·

Daar is PROEWE gehou waar die A-span en die B-span teen mekaar gespeel het. Halftyd is die kombinasies / spelers sommer tussen spanne geruil . . . daarom het die spelers mekaar geken. Almal kon saam met almal op die veld draf.

Die ander belangrike punt – hulle het gespeel weens die LIEFDE van die spel en nog ‘n “9 to 5” beroep beoefen. Hulle het TROTS gehad!!

Danie ·

Ongelukkig moet jy deesdae ‘n kwota speler wees om in die Springbokspan te speel. Vaardigheid is eers belangrik nadat die kwotas nagekom is. Neem kwotas weg en laat net vaardigheid tel dan sal vaardigheid weer die span se beste bate wees.

Frans C ·

Pollard laat my baie dink aan die bekende All Black heelagter Don Clarke,met die bynaam ‘The Boot’ omdat hy die bal baie ver kon skop.Hy het egter volgens kenners van die tyd
die bal meer ‘gestamp’ as geskop.
Mi dink Pollard teveel oor hoe hy moet skop,dus is die aksie belangriker as die skop.
Hoe eenvoudiger,hoe beter.Waar is Braam van Straaten,kan hy nie help nie,of wat van Naas?

jannie ·

Dis hartseer maar als in die land wat ons opgewonde gemaak het gaan tot niet…nie eers meer gholfspelers wat presteer nie……….Go Kevin Anderson!!!

LHS ·

Gelukkig het almal nie die bulle se sentiment van skop en storm gedeel, op die langtermyn het dit die bulle se rugby en rugbyspelers erg benadeel. Inteendeel dit het tot vandag toe nog nie herstel nie.

Callie ·

Ou LHS, mens moet mooi dink voor jy iets kwytraak. Bulle is die mees suksesvolle span in SA se geskiedenis. Genade, as n span so goed gedoen het moet n mens nie nonsens kwytraak nie

Buffel ·

Stem Callie. Asof die Bulle nou iets uit te waai het met die gemors in SA rugby. LHS moet gaan kyk hoeveel driee die Bulle gedruk het in hul suksesvolste Superugby en Currie beker jare. Hy het nog het gehoor van Bulle rugby en dit eintlik baie min gesien.

Chris.E ·

Vir al die manne wat Pollard so kritiseer, het julle ‘n alternatiewe speler. Ek neem aan die meeste van julle is voorspelers wat so slim is. Julle besef seker dat pale toe geskop word slegs gebeur na ‘n drie gedruk is, ‘n fout naby die opponent se pale gemaak is en wanneer die geleentheid hom voordoen om ‘n skepskop te waag. ‘n Goeie losskakel speel goed agter ‘n verloorpak, ‘n briljante losskakel speel agter ‘n wenpak. Ek het Pollard die eerste keer in my lewe tydens ‘n rugbyweek by Kearsney College sien speel. Hy was trouens die speler van die toernooi. Ek het die grootste bewondering vir die man. Hy het net bietjie skaafwerk aan sy skopwerk nodig en sal hy dan tot reg kom. Goeie losskakelspel is jy moet ” kan wyd kyk,” voorgevoel hê, jou senters vinnig wegstuur, die spel lees en natuurlik so nou en dan ‘n bal tussen die pale deurskop. Hy is die tipiese speler wat ek teen die All Blacks sal kies. Die All Blacks kom kies mos ons spanne vir ons deur in die pers te sê hoeveel agtig hulle vir die en daardie speler het. Ek glo aan wonderwerke en die All Blacks se pak is nader as wat hulle dink. So vir die voorspeler kritici kyk na die voorspelers se spel. Die voorspelers skep indirek die geleenthede vir die agterspelers want met ‘n pak wat vorentoe gaan skep dit ruimte vir die agterspelers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.