Albei SA skrumskakels druk vir hul Engelse span

Albei Suid-Afrikaanse skrumskakels wat vir die Engelse klub Northampton speel, het Sondag vir dié span drieë gedruk.

Nadat Nic Groom, ʼn gewese Stormers-skrumskakel, binne twee minute Northampton se eerste drie teen London Irish in die Engelse Premierliga gedruk het, het sy plaasvervanger, die Springbok Cobus Reinach, die Saints se laaste drie twee minute voor die einde gedruk

Northampton het die kragmeting met 40-25 gewen.

In die wedstryd tussen Exeter en Wasps het Don Armand vir eersgenoemde, en die Springbok Asley Johnson vir laasgenoemde gedruk.
Exeter het met 31-17 gewen.

Armand, wat slot en flank vir die Stormers gespeel het, het in Junie vanjaar sy buiging vir Engelad teen Argentinië gemaak.

Saterdag het die Bok-stut Vincent Koch ʼn drie vir Saracens in sy sege van 41-13 oor Sale gedruk.

Nog ʼn Bok, die skrumskakel Faf de Klerk, het ʼn strafdoel vir Sale behaal.

DTH van der Merwe, die Kanadese toetsvleuel wat op Worcester in die Boland gebore is, het ʼn drie vir sy nuwe span Newcastle, gedruk in die se sege van 33-32 oor Bath.

Tim Swiel, ʼn gewese SA Skole-speler wat Superrugby vir die Sharks gespeel het, het ʼn doelskop tot Harlequins se nederlaag van 28-31 teen Leicester bygedra.

Pro14-liga

Twee Suid-Afrikaanse stutte was tussen die driedrukkers in die Pro14-reeks.

Die Springbok Werner Kruger het vir die Walliese streekspan Scarlets in sy oorwining van 28-8 oor die Skotse superklub Edinburgh gedruk; en Wiehan Herbst vir Ulster in sy sege van 52-25 oor die Walliese streekspan Newport Gwent Dragons.

Herbst het vir SA o.20 en Superrugby vir die Sharks gespeel.

Nog ʼn gewese SA o.20-speler Braam Steyn, wat toetsrugby vir Italië speel, het die Italiaanse klub Benetton Treviso se enigste drie in sy sege van 16-6 oor die Walliese streekspan Ospreys (Swansea) gedruk.

Engelse Kampioenskap

Ryan Smid, ʼn losvoorspeler wat Curriebekerrugby vir die Westelike Provinsie gespeel het, het Sondag twee drieë vir Ealing Trailfinders in die Engelse Kampioenskap gedruk.

Sy span het London Scottish met 72-12 verniel.

Brendon Cope, ʼn gewese onderouderdomspeler van die Sharks, het albei Jersey se drieë teen Richmond verdoel, maar laasgenoemde het met 23-14 gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.