Alberton moes eers wakker skrik teen Quins

albertonAlberton moes Saterdag eers wakker skrik in sy vriendskaplike wedstryd teen Harlequins van Krugersdorp.

Rory Lategan, die klubbestuurder van A Square Forklift Alberton, laat weet Quins was van die afskop af vuur en vlam en het in ‘n ommesientjie 6-0 voorgeloop.

BB Hefer, Alberton se kaptein, moes hard met sy manne praat voor hulle lewe gekry en uiteindelik die Wes-Randers 20-6 geklop het (rustyd 8-6).

Lategan het aan Pale Toe! gesê sake het beter vir die wenspan verloop toe die Albertonners eers hul speelstyl agtermekaar gekry het.

“Die voorspelers het ‘n puik aanvalsplatform van die losspel en skrums af geskep, maar Harlequins se langerate het sake in die lynstane erg bemoeilik … en swak weerstoestande het voorkom dat die agterlyn werklik in rat kom.”

Theuns van der Merwe voer `n passie uit om `n bres in Harlequins se verdediging te slaan. (Foto: Verskaf)

Theuns van der Merwe voer ‘n passie uit om `n bres in Harlequins se verdediging te slaan. (Foto: Verskaf)

Hy sê Donovan Putter, Alberton se op en wakker skrumskakel, het laat in die eerste helfte dwars gehardloop, vir die nuweling Brian Thysse (senter) om reguit deur te sny en die eerste van drie drieë te druk.

Henry Payne (heelagter) het voor die blaaskans ook met ‘n strafdoel geslaag.
“Die agttal het in die tweede helfte steeds oorheers, maar die agterspelers kon nie die moeilike speeltoestand te bowe kom nie.”

Benna Lotter (stut) het ‘n drie gedruk, voor die afrigter, Wayne Williams, met goeie vrug ‘n paar plaasvervangers opgestuur het.

“Theuns van der Merwe het deur ‘n halwe gaping gebars en nog ‘n nuweling Caltino Jones (vleuel) in besit gestel.

“Dié moes sy litte roer, voor hy die bal met ‘n kort skoppie oor die laaste verdedigers gelig, dit omarm, en daarmee oor die doellyn gesnel het.”

Alberton II het Quins 48-13 vermorsel, maar sowel die klub se o.19- as sy o.21-span het slae gekry.

Alberton het die afgelope paar jaar redelik gesukkel in die reeks om die Goue Leeus-rugbyunie (GLRU) se Pirates-grootuitdaagbeker, maar daar word hard aan gewerk om die klub sy eertydse glorie te laat herwin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.