Alberts nog nie reg; Whiteley weer in Bokgroep

Warren Whiteley (foto: sarugby.co.za)

Warren Whiteley (foto: sarugby.co.za)

Die Springbokflank Willem Alberts kon Donderdag nie sy fiksheidstoets slaag nie en word in die Springbokgroep na Australasië deur die Goue Leeus se kaptein en agsteman, Warren Whiteley, vervang.

Alberts, wat albei die naelskraap-wentoetse teen Argentinië weens `n dyspierbesering misgeloop het, het effense senuwee-irritasie in sy lae rug tydens Donderdag se fiksheidstoets ondervind. Hy is vir skandering gestuur.

“Verdere ondersoek na die simptome is nodig en Willem sal `n aantal spesialiste moet sien om die optimale herstelplan te bepaal sodat ons hom so spoedig moontlik weer op die veld kan kry,” het die Springbokke se spandokter, Craig Roberts, Donderdag gesê. Alberts se dyspier herstel wel goed.

Whiteley sal hom Vrydagoggend by die span aansluit. Die Springbokke, wat die laaste paar dae afgegee is, vertrek Saterdag na Australië.

Juan Smith vra meer tyd

Die Bok-afrigter, Heyneke Meyer, sê hoewel die Toulonflank Juan Smith op gereedheidsgrondslag as plaasvervanger was, het Smith gevra dat hy meer tyd gegun word om aan sy wedstrydfiksheid te werk.

“Hy stel hoë standaarde aan homself en was nie tevrede met sy vertoning in Salta nie,” het Meyer gesê.

Hy het bygevoeg dat Whiteley `n natuurlike agsteman is en dat dit dié posisie is waarvoor hulle ekstra dekking nodig het.

Die Springbokke sal Vrydag in Johannesburg oefen en Saterdag na Perth vertrek, waar hulle aanstaande Saterdag (12:05 SA tyd) teen Australië speel. Die daaropvolgende Saterdag speel hulle in Wellington teen Nieu-Seeland (09:35).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.