All Blacks: Barretts maak geskiedenis, groot “groentjie” op die bank

Die drie Barrett-broers van die All Blacks. Van links is Jordie, Beauden en Scott.

Die All Blacks se afrigter Steve Hansen  het, soos verwag is omdat dit vir elke All Blacks-span geld, ʼn bulspan gekieseerste van die drie toetse teen Frankryk.

Hulle skop Saterdagoggend (09:35) op Edenpark af ‒ en vir die heel eerste keer in die geskiedenis van dié land se toetsrugby sal drie broers saam opdraf

Hulle is in dié opsig vir Suid-Afrika voor wat met die drie Du Preezs ook drie Bokke in dieselfde Bokgroep het met Jean-Luc, Dan en Robert. Saamspeel het hulle egter nog nie.

Jodie op heelagter, die losskakel Beauden en die slot Scott maak dus hul stukkie Nieu-Seelandse geskiedenis teen die heel laaste span wat die All Blacks op Edenpark in Auckland kon klop.

Dit was toe die Franse in 1994 (wie kan daardie skitterende hardlooprugby van hulle ooit vergeet!) die All Blacks met 23-20 geklop het.

Dit is 24 jaar gelede en ʼn jaar voordat die Springbokke van Francois Pienaar die Wêreldbeker op Ellispark gewen het! Sedertdien is daar 40 toetse gespeel waarvan twee gelykop geëindig het.

Bitter min mense en geen beroepswedder sal die kans waag om die Franse Saterdag die gunstelinge te maak om daardie prestasie te kan herhaal nie.

♦ ʼn Interessante insluiting in die span is ʼn amperse groentjie in groot rugby. Hy is die makrostut Karl Tu’inukuafe wat maar twee maande gelede die eerste keer Superrugby gespeel het.

Hy weeg nou ʼn “skrale” 135 kg en het meer ernstig begin rugby speel nadat hy ʼn jaar of drie gelede, toe hy 175 kg geweeg het, deur ʼn dokter ʼn ultimatum oor sy gewig gestel is. Hy is aangeraai om ʼn sport te beoefen en het op rugby besluit.

Tu’inukuafe het toe, onder meer, vir ʼn seisoen klubrugby in Frankryk gespeel, toe teruggekeer Nieu-Seeland toe en twee maande gelede vir die Chiefs plek gekry nadat dié span stutprobleme ondervind het.

Hy was nie in die afrigter Hansen se aanvanklike genooide groep nie, maar is nadergetrek toe Tim Perry tydens die eerste oefenkamp beseer is.

En nou sit die ou grote op die All Blacks se bank!

♦ Die Suid-Afrikaner Bernard le Roux, wat reeds in 30 toetse vir die Hane gespeel het, is weer in die Franse 23-tal. Die oud-Moorreesburger, wat 1,97 m lank is en 116 kg weeg, het sy debuut as flank in 2013 in Christchurch teen die All Blacks gemaak.

Die spanne ‒

Nieu-Seeland
15 Jordie Barrett, 14 Ben Smith, 13 Anton Lienert-Brown, 12 Ryan Crotty, 11 Rieko Ioane, 10 Beauden Barrett, 9 Aaron Smith, 8 Luke Whitelock, 7 Sam Cane, 6 Liam Squire, 5 Scott Barrett, 4 Sam Whitelock (kaptein), 3 Owen Franks, 2 Codie Taylor, 1 Joe Moody. Bank: 16 Nathan Harris, 17 Karl Tu’inukuafe, 18 Ofa Tuungafasi, 19 Vaea Fifita, 20 Ardie Savea, 21 TJ Perenara, 22 Damian McKenzie, 23 Ngani Laumape
Frankryk
15 Maxime Medard, 14 Teddy Thomas, 13 Mathieu Bastareaud (kaptein), 12 Geoffrey Doumayrou, 11 Remy Grosso, 10 Anthony Belleau, 9 Morgan Parra, 8 Fabien Sanconnie, 7 Kelian Gourdon, 6 Judicael Cancoriet, 5 Yoann Maestri, 4 Paul Gabrillagues, 3 Uini Atonio, 2 Camille Chat, 1 Dany Priso. Bank: 16 Adrien Pelissie, 17 Cyril Baille, 18 Rabah Slimani, 19 Bernard Le Roux, 20 Alexandre Lapandry, 21 Baptiste Serin, 22 Jules Plisson, 23 Gael Fickou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.