All Blacks behou wengroep

Die All Blacks tydens ‘n vorige wedstryd op Ellispark. Foto: GB Jordaan.

Ian Foster, Nieu-Seeland se afrigter, het sy vertroue gewys in die span wat die Rugby-kampioenskap gewen en ʼn mate van trots herstel het in die All Blacks. Hy sê hulle verdien om in die groep te wees vir sy span se jaareindtoer.

Daar is geen verrassings in die groep van 35 spelers vir die vier toetse nie. Die enigste “nuwe” speler is die ervare agterspeler Anton Lienert-Brown wat nog nie vanjaar vir die nasionale span gespeel het nie. Lienert-Brown moet die gaping vul wat gelaat is weens die langtermyn beserings van Jack Goodhue en Quinn Tupaea.

Foster het besluit om geen debutante te kies nie en meen die tyd om diepte te bou voor volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi, is reeds verby.

Hy het besluit om eerder verder te bou aan bestaande kombinasies nadat sy span ʼn moeilike jaar gehad het met ʼn geskiedkundige reeksnederlaag teen Ierland by die huis. Hulle kon wel hulle laaste drie toetse wen om Foster se bas te red en ʼn hele paar senior spelers se toekoms in die swart trui te verleng.

Daar was nie plek in die groep vir die veelsydige agterspeler Damian McKenzie nie. Hy kon tot nou toe weens Nieu-Seeland regulasies nie in die nasionale span ingesluit word nie omdat hy vroeër vanjaar in Japan klubrugby gespeel het. Hy gaan waarskynlik ingesluit word in die All Blacks XV wat teen Ierland A en die Barbarians gaan speel.

Die All Blacks se toer begin op 29 Oktober teen Japan in Tokio voordat hulle op agtereenvolgende naweke teen Wallis, Skotland en Engeland te staan kom.

All Blacks-groep:

Agterspelers: Aaron Smith, Finlay Christie, Folau Fakatava, Richie Mo’unga, Beauden Barrett, Stephen Perofeta, David Havili, Roger Tuivasa-Sheck, Rieko Ioane, Anton Lienert-Brown, Braydon Ennor, Jordie Barrett, Caleb Clarke, Will Jordan, Sevu Reece, Leicester Fainga’anuku.

Voorspelers: Samisoni Taukei’aho, Codie Taylor, Dane Coles, Ethan de Groot, George Bower, Tyrel Lomax, Fletcher Newell, Ofa Tuungafasi, Nepo Laulala, Sam Whitelock, Brodie Retallick, Tupou Vaa’i, Scott Barrett, Sam Cane (kaptein), Ardie Savea, Shannon Frizell, Akira Ioane, Dalton Papalii, Hoskins Sotutu.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.