All Blacks boet heelwat ervaring teen Poemas in

Een swaeltjie maak gewis nie ʼn somer nie. Dit besef die Springbokke ná hul oorwinning teen die All Blacks terdeë. Nét so weet die All Blacks dat die onverwagte neerlaag nie vir hulle ʼn finale nekslag is nie.

Maar daar is egter skielik daardie tikseltjie vertwyfeling by die All Blacks se spelers self, en die kritiek van hul afrigter, Steve Hansen, het sake nie vir hulle makliker gemaak nie.

Die druk sal Sondagoggend vroeg (00:40 SA tyd) ook nie minder wees wanneer hulle met ʼn redelike onervare span in Buenos Aires teen die Poemas op die veld draf nie. Trouens, pleks van die “kom ons kyk hoe goed kan ons speel”-ingesteldheid, sal daar nou skielik spanning wees ‒ vreemd aan die All Blacks, maar iets wat alle spanne gedurig ervaar.

♦ Hulle is sonder hul kaptein, Kieran Read, wie se rug teen baie reis beskerm word ná sy operasie laat verlede jaar. Hy bly tuis vir dié wedstryd en vlieg net na Suid-Afrika toe vir aanstaande week se toets.

Read se ervaring (113 toetse) en sy leierskap sal ongetwyfeld in Argentinië gemis word.

♦ Die skitterende slot Brodie Retallick, wie se afwesigheid terdeë in die verloorwedstryd teen die Springbokke gevoel is, is steeds beseer en die All Blacks verloor daarmee die ervaring van 71 toetse.

♦ Boonop is die ervare voorspelers – die voorste haker Dane Coles (56 toetse) wat steeds nie gereed is vir toetsrugby ná sy ernstige kniebesering in November verlede jaar nie, Joe Moody (36 toetse) en Liam Squire (20 toetse) – ook nie op die toer na Argentinië en Suid-Afrika nie.

Die toetsspan word na verwagting eers Donderdagmiddag (SA tyd) deur die All Blacks-afrigter, Steven Hansen, bekendgemaak. Die span sal na verwagting twee losvoorspelers insluit wat saam nog net in drie toetse gespeel het.

♦ Shannon Frizell (twee toetse) sal waarskynlik die agsteman wees met die ervare Sam Cane (58 toetse) wat saam met die onervare Jackson Hemopo, die flanke sal wees. Hemopo het net sowat 20 minute se toetsrugby as plaasvervanger in vanjaar se derde Junietoets teen Frankryk agter die rug.

♦ Moody se plek sal waarskynlik deur die nuwe loskop Karl Tu’inukuafe ingeneem word, wat nog net sewe keer in ʼn toets op die veld was ‒ meestal as ʼn plaasvervanger. Hy het slegs drie jaar gelede ernstig begin rugby speel in ʼn poging om op mediese advies gewig te verloor.

Die All Blacks het ongetwyfeld die meeste (en beste) diepte van alle toetsspelende lande. Tog, die aantal groentjies of amperse groentjies wat teen die omgekrapte Poemas voor hul raserige en rasende skare moet speel, sal dit weens die neerlaag teen die Bokke waarskynlik moeiliker as gewoonlik vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

KWI ·

Ons is nou nóg sterker, en sal oorwinnings he, met 18 teen die Pumas, en 10 teen die Bokke op Loftus.

Springbok Patriot ·

KWI jy se ons…….is jy dan n gebore all black dat jy so van ONS praat. Hoekom trek jy nie eerder en gaan bky in daardie koue land nie. JULLE gaan die naweek pak kry vir die eerste keer in die geskiedenis in Argentinie en dan wag die bokke op JULLE. Al wat die bokke asook die Iere,Australie en die Leeus verlede jaar bewys het dat as JULLe onder druk geplaas word vou julle, doodnormaal soos enige ander span. Ek dink JULLE tyd is vinnig beter om nou verby te gaan, JULLE sal nie volgende jaar die eindstryd van die Wereldbeker haal ie,merk maar my woorde.

AW ·

Gee erkening waar erkening toekom!
Tog, op een of ander tydstip sal die All Blacks Struikel…..
Tyd is my Vriend !!

JS ·

Die Kiwi’s moet nie onderskat word nie, hulle 4de keuse speler in baie posisies sal ander lande se top spelers les laat op se, MAAR, ek het hoop dat die bokke weer die wa deur die drif kan trek. GO BOKKE!!!!

Kiewiet ·

Nee wat Springbok Patriot jy gaan nog jou woorde sluk . Die Wallabies en die All Blacks gaan jou Boerbok span pak gee.

Bruno Samartino ·

Nee nooit, SA is nou na die oorwinning teen All Blacks een van beste spanne op planeet-merkwaardig. Ou Rassie wat net so sleg as ou Toetie gevaar het tot dusver het ook ontpop tot die beste rugbybrein op planeet-merkwaardig. Steph du Toit oor wie daar altyd gestry is oor slot of flank, het na een wedstryd ontpop, volgens berigte, tot die beste 7 flank op die planeet-merkwaardig. Dus, geen kans dat hierdie merkwaardige span teen Australie sal verloor nie-nog minder teen die All Blacks. Wag jy en kyk

schalk ·

Lekker manne lekker klink amper soos verlede jaar se weervoospellings,geen waarborge.Sal maar sien ,voorspellings en opini klink na politiek tog lekker geniet net die spel dit is net n sport.

nico k ·

Ek stem saam met Schalk. As die Springbokke verloor gaan dit nou geen verskil aan my lewe maak nie, maar dit gaan darem baie lekker wees as hulle dit weer regkry om die All Blacks te wen en dit voor hul tuis skare.

Koos ·

manne ons moes pak gekry het teen die all blacks… 4 skoppe pale to egemis en 2 onderskep driee vir ons… nee wat ons was biae baie gelukkig… haal kwotas uit en ons sal weer n krag wees in rugby maar solank daar kwotas is is my hart seer want ek support nie die bokke nie… go Aussies…

Leon ·

Koos julle mense watso gepla is met kwotas, klink amper soos sekere politieke partye wat apartheid blame vir alles. gee die manne kans hulle is nie so sleg soos julle aangan nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.