All Blacks-breier lê snoeiskêr in

Steve Hansen. Foto: Facebook.

Wat maak jy as jou span ’n rekordnederlaag teen Australië in die Bledisloe-beker gely het? Wel, as jou naam Steve Hansen is, dan lê jy die snoeiskêr in.

Senior spelers soos Owen Franks en Rieko Ioane het almal die trekpas gekry ná die All Blacks verlede naweek 26 – 47 teen die Wallabies in Perth verloor het.

Kieran Read se span móét nou die naweek se kragmeting op Edenpark in Auckland wen om te verhoed dat die Bledisloe-beker ’n nuwe tuiste in Australië kry.

Die ervare Ben Smith het ook in die slag gebly, terwyl Scott Barrett vir drie weke geskors is – hy sal egter beskikbaar wees om op slot teen die Bokke op 21 September in Yokohama te rank.

Die Crusaders-duo van George Bridge en Seevu Reece sal onderskeidelik vir Ioane en Smith vervang, terwyl Nepo Laulala in Franks se plek voor in die skrum sal sak.

“Ons moet 200% verbeter, anders gaan die beker na Australië,” het Hansen gesê.

“Dit is altyd lekker om in Nieu-Seeland te speel en veral op Edenpark. Ons het fantastiese ondersteuners oral in die wêreld, maar daar is niemand wat by ons ondersteuners hier in Nieu-Seeland kan kers vashou nie. Ons sien daarna uit om ’n vertoning te lewer waarop hulle trots kan wees.”

  • Dit sal Hansen se 100ste toets in beheer van die All Blacks. Hy het 86,8% van sy wedstryde tot op hede gewen.

All Blacks: Beauden Barrett (heelagter), Sevu Reece (regtervleuel), Anton Lienert-Brown (buitesenter), Sonny Bill Williams (binnesenter), George Bridge (linkervleuel), Richie Mo’unga (losskakel), Aaron Smith (skrumskakel), Kieran Read (kaptein en agtsteman), Sam Cane (flank), Ardie Savea (flank), Samuel Whitelock (slot), Patrick Tuipulotu (slot), Nepo Laulala (stut), Dane Coles (haker), Joe Moody (stut). Plaasvervangers: Codie Taylor, Ofa Tu’ungafasi, Angus Ta’avao, Jackson Hemopo, Matt Todd, TJ Perenara, Ngani Laumape, Jordie Barrett.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Frans C ·

Ek weet nie wat die rede is waarom Hansen steed vir Beauden Barrett op heelagter
kies.Daar moet tog heelagters in NZ wees wat die posisie kan vul. Ben Smith is die
Highlanders se gereelde heelagter. Omdat Barrett so vinnig van die merk is behoort hy
meer slaankrag op 10 as 15 aan die agterlyn te gee.

Die feit dat Hansen nog steeds na nuwe kombinasies soek maak mi die All Blacks kwesbaar en kan die Wallabies hul verder skok met ‘n nog ‘n oorwinning.

ChrisE ·

Ek wil my nouself nie as ‘n rugbykenner uitgee nie, maar wil graag my opinie oor die spel lug. Ek dink die All Blacks is baie kwesbaar as hulle onder druk geplaas word. Hulle is nie onoorwinbaar nie. Hulle het nou reeds die wêreldbeker drie keer gewen, nie omdat hulle so goed is nie, maar omdat die ander spanne nie op standaard is of was nie. Die Springbokke het nie ‘n goeie afrigter sedert Jake White gehad nie. Hoop mnr Erasmus kan ‘n hok hase uit die hoed uitrek. Ek dink die Iere en Walliesers en selfs die Engelse het goeie spanne. Die groot drie, Australië, Nieu Seeland en die Springbokke is maar altyd faktore om mee rekening te hou. Ons sal maar wag en sien. Die Fransmanne is so wispeltuurig mens wonder of hulle hul eie spelpatroon verstaan. Ek dink dit gaan ‘n baie suksesvolle en goeie, lekker toernooi wees. Die Japanese weet hoe om dinge te doen. Presies en op die kleinste besonderhede ingestel.

Nico K ·

Om terug te kom na die losskakel keuse. Ek dink NZ sit met 2 uitstekende losskakels en die afrigter wil nie een uit laat nie. Daarom probeer hy kyk of hy nie albei kan gebruik nie. Maar ek stem saam Barrett het nie beindruk op heelagter nie.

koos1 ·

Enige span het ‘n opwaardse kurwe, piek en afwaardse kurwe. Die AB se piek het lank gehou maar sonder die afwaardse kurwe, kan jy nie weer die piek bereik nie.

Niklaas ·

Ek sou weer die twee AB losskakels omruil. Mo unga is altyd baie veilig met verdediging , maar Beauden het meer talent op losskakel as met heelagter pligte . Beide is werklik puik spelers. Eintlik is Hansen se taak nie wie gekies moet word nie , maar wie NIE gekies word.
Benydenswaardige posisie wat hy het. Ek glo dat Australië in NZ ‘n heel ander AB span gaan teëkom as in Perth.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.