All Blacks dink – en dóén – alweer verder as SA

spangeesDaar is min dinge in rugby wat `n span kan saamsnoer soos `n rugbytoer.

Gesels maar met enige rugbyspeler wat al op toer was, hetsy op skool, universiteit, subunie, klub of provinsie. Dis onvergeetlik, dis hoekom ons rugby speel.

Gaan gesels maar met oud-Bokkaptein Wynand Claassen oor die Bok-toerspan wat in 1981 deur Nieu-Seeland getoer het. Dink ook maar terug aan Avril Malan se Bok-toerspan wat in 1960/’61 deur Brittanje en Frankryk getoer het. Drie tot vier maande van die huis af, 34 wedstryde gespeel en net een keer verloor het (teen die einste Barbarians wat die Bokke met 6-0 geklop het). Gaan slaan maar na oor 1937 en ander Boktoere.

Dis waar die ware leiers na vore tree, die manne van die seuns geskei word, waar jy agterkom watter spelers bereid is om deur die pyngrens te speel, hul lywe vir spanmmaats op die spel plaas.

Dis hoekom dit jammer is dat die Bokke – dis nou die eerste groep van 30 spelers wat op 5 November op Wembley teen die Barbarians speel, net een keer in aksie sal wees.

Die Bok-afrigtingspan, bestaande uit Allister Coetzee, Franco Smith, Matt Proudfoot, Johann van Graan, Mzwandile Stick en Louis Koen kry wel die volgende paar dae en aanstaande week in Londen die kans om met die spelers te werk, maar sewe spelers, wat talentvolle spelers soos Cheslin Kolbe, Jamba Ulengo, Rohan Jansen van Rensburg, Tian Schoeman, Uzair Cassiem en Thomas du Toit kan insluit, sal ná tien dae se saamwees moet terugkeer.

Kom ons vergelyk dit met Nieu-Seeland.

Die All Black-afrigter Steve Hansen en sy mede-keurders het 36 spelers gekies vir die komende toer wat toetswedsdryde teen Ierland in Chicago en Dublin insluit, asook nog twee toetse teen Italië en Frankryk.

Die Maori-toerspan van 26 lede is ook gekies, wat die hele tyd in die skadu van die All Blacks sal beweeg. Die toerspan speel die dag voor die All Blacks Ierland in Chicago pak, teen Amerika.

Hulle reis dan ook na Brittanje vir wedstryde teen Munster in Limerick en Harlequins in Londen.

Die afrigter, Colin Cooper, wat bygestaan word deur Tana Umaga en Carl Hoeft, sal ten nouste met Hansen se All Blacks saamwerk, dieselfde spelpatroon en fiksheidsprogram volg en gereed wees as daar op enige speler se knoppie gedruk moet word.

Wat baie belangrik is, is dat die voorste 62 spelers in Nieu-Seeland `n maand lank saam op toer is, `n maand lank saam oefen en speel, `n maand lank saam spangees opbou.

En dan vra ons nog hoekom Nieu-Seelandse spanne so goed in die Superreeks vaar.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Apolis ·

Aweh ne! maar onse Rugby spelers sit met n wolk van politieke inmening bo op hulle se koppe! Die All Blacks word gegun om een ding te doen ne! en dit is Rugby speel, Dit is waarop hulle hoef te konsentreer, en elkeen van hulle weet sy spanmaat is daar omdat hy goed genoeg is! Hulle sal doodgaan vir mekaar, hulle is trots op hulle se span en coaches! Hulle gaa nop toer met drie gameplans, ons klim opi bus met een….(En hy werkie!)

albert ·

Dit was so in Danie Crawen se dae, maar toe moes alles verander word in een groep. Dit is waarom ons nie sal vorder solank ons trekvoels kies en ameteurs aan stuur van sake het. Al hoe dit moontlik sal verander as die ander lande nie teen ons wil speel nie want dit is nie die beste spelers wat gekies word vir die Springbok span en ons as toeskouers nie meer gaan kyk by die stadions nie

Jan ·

Springbok rugby het die rugby grap in die werêld geword.Wonder waar is die voorstaaners om ” nie-politieke in menging”te duld nie. Die werêld lag hulle slap vir die “hasbeens” wat gekies word onder die dekmantel van ondervinding. Verander die eens trotse naam na enige iets anders ASB!!

Jourdan ·

Coetse, maak jou …………. oë oop, hoekom moet daardie spelers huis toe kom, laat hulle saam toer, of wil jy hulle toer geld in jou sak druk. Gooi die ou manne uit, Habana hoor in die ouetehuis, Die goue reel is, kies die manne wat op vorm is, hoe moeilik is dit om te verstaan.

Frans C ·

Ons hele rugbystruktuur is verkeerd.Waar ons nog wonder hoe die 6 Super 18 spanne gaan lyk is NZ feitlik in die opsig klaar.
Hier is my radikale voorstel. Beslis die Curriebeker op ‘n sokkerstelsel.Die span wat eerste eindig is die kampioen,geen outomatiese bevordering vir die vyf groot unies, geen uitspeelwedstryde.

Begin dan met die oog op die Super 18 ‘n streekkompetisie.Kies bv ‘n span bestaande uit die Leeus,Poemas,Luiperds en Valke en laat hul deelneem teen soortgelyke spanne van
ander provinsies. Die kompetisie vervang die tweede been van die Curriebeker en proefwedstryde tussen Super 18 spanne.

Dit gaan afrigters van Super 18 spanne ‘n deeglike kykie na alle talent gee.Onder leiding van SARU kan spelers na die spanne gesekondeer word om sekere leemtes wat daar is te vul. Die Springbokafrigter kry dan kans om spelers in ‘n ander en strawwer kompetisie te beoordeel.

Teen die tyd wat die ouens terugkeer van Japan ens kan hul dalk agterkom dat hul nie meer outomatiese eerste keuses is nie, ander het hul plekke ingeneem.

Die volgorde van bekers verander dus soos volg.
1. Wêreldbeker.
2. 4 Nasie-beker.
3. Super 18 beker
4. Konferensiebeker.
5. Interne streekspanbeker.
6.Curriebeker.
7. As dit nog bestaan ou eerste liga Curriebeker.
Suid Afrika het dan twee sterk kompetisies in die konferensiebeker en interne streekspanbeker waarby Springbokrugby kan baat en plaas mi die Curriebeker in die posisie waar dit hoort.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.