All Blacks dun agterlangs, dik voorlangs

Die All Blacks lyk maar aan die dunnerige kant agterlangs, veral as die pak voorspelers nie Saterdag in Brisbane die oorhand oor die Wallabies in die derde Bledisloe-toets kry nie.

Die kwiksilwer-losskakel Beauden Barrett sukkel steeds met duiseligheid nadat hy in die onlangse toets in die Rugbykampioenskap teen die Springbokke op Nuweland ʼn stamp teen die kop gekry het.

Lima Sopoaga, wat hom vervang het, kry die eerste keer in 27 maande weer in die opdrafspan ʼn kans.

Sopoaga het nie in die tweede helfte teen die Bokke oortuig nie en sy beste stukkie spel was straks sy Oscar-vertoning toe Damian de Allende in hom vasgehardloop en hy neergeslaan het.

Barrett, wat volgens die All Blacks se mediese span die harsingskuddingstoets op Nuweland geslaag het, word in watte toegedraai voor aanstaande maand se Europese toer.

Wat verder interessant is, is dat daar geen losskakel op die plaasvangersbank ingesluit is nie. Die vlugvoetige heelagter Damian McKenzie sal losskakel toe skuif as dinge verkeerd loop met die onervare David Havili dan in die laaste vesting. Dan speel Waisake Naholo ook weer regtervleuel.

Voorlangs is dit dieselfde pak (steeds nie Brodie Retallick nie wat menslikheidverlof gegun word oor die afsterwe van hul ongebore baba) wat nie die oorhand oor die Bokke kon kry nie.

Die All Blacks is reeds met 2-0 in vanjaar se drie toetse om die Bledisloe-beker voor en behalwe om die koffers te laat bult weet ʼn mens ook nie aldag of die wedstryd baie belangstelling gaande maak nie.

All Blacks –
Damian McKenzie, Waisake Naholo, Ryan Crotty, Sonny Bill Williams, Rieko Ioane, Lima Sopoaga, Aaron Smith, Kieran Read (kaptein), Sam Cane, Liam Squire, Scott Barrett, Sam Whitelock, Nepo Laulala, Dane Coles, Kane Hames. Bank: Codie Taylor, Wyatt Crockett, Ofa Tu’ungafasi, Patrick Tuipulotu, Matt Todd, TJ Perenara, Anton Lienert-Brown, David Havili.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.