All Blacks-eis grens mos aan paranoia

Lynstaanmanne Werner Swanepoel en Victor Matfield. (Foto: ESPN Scrum)

Lynstaanmanne Werner Swanepoel en Victor Matfield. (Foto: ESPN Scrum)

Maak die gordyne toe, niemand mag sien hoe ons oefen nie.

Die All Blacks het gister gevra dat die vensters van `n onthaalsaal op die vierde vlak van die Wellingtonse stadion Vrydag met gordyne toegemaak word sodat die 750 gaste wat die Wellingtonse Eeufees-klub se jaarlikse middagete bywoon, nie mag koekeloer hoe die All Blacks hul voorbereidings afsluit vir Saterdag se tweede Rugbykampioenskap- en Bledisloe-toets teen die Wallabies nie.

Die besluit dat daar gordyne voor die venters gehang moet word, is reeds verlede  jaar in November geneem, maar word nou die eerste keer toegepas.

In die ou dae toe joernaliste nog by die laaste oefening toegelaat is, het die afrigter (in daardie dae was daar net een) langs die kantlyn gestaan, want die leisels is aan die kaptein gegee. Die kapteinsoefening het bestaan uit kringetjie maak, `n paar bewegings (sonder teenstand) in te oefen, een of twee keer die bal in lynstane (sonder teenstand) in te gooi, een of twee keer te skrum (sonder teenstand) en dan weer kringetjie te maak.

Ek besef dat daar baie op die spel is, dat afrigters kort van draad voor `n toets of ‘n  belangrike wedstryd is en niks aan die toeval wil oorlaat nie, maar dit grens mos aan paranoia.

Jare gelede, toe Laurie Mains die destyde Cats in die Superreeks afgerig het, wou hy al sy oefeninge voor `n belangrike wedstryd in die geheim hou.

Ná `n lang geredkawel is ons by die oefeninge toegelaat, op voorwaarde dat ons niks daaroor mag skryf nie – nie hoe Kobus Wiese die bal in `n lynstaan wen nie, hoe Werner (Smiley) Swanepoel die bal aan Hennie le Roux uitgee nie, hoe Francois Pienaar `n duiksak in sy peetjie loop nie.

Daar was wel een beweging wat nuut was, hy het Smiley Swanepoel in die eerste lynstaan op slot laat staan en dan is hy hemelhoog deur Balie Swart opgetel.

Doer in die een hoekie van Markspark (waar die span geoefen het) het Anton Snyman  van die SAUK op kamera sy laaste afrondingswerk gedoen … en toe sien Mains hom raak.

Hy het woedend op Snyman en die kameraman afgestorm, van allerhande lelike dinge beskuldig en aangedring om te kyk wat afgeneem is.

Saterdag het aangebreek – en daar wen Swanepoel die eerste lynstaan.

Noudat ek daaraan terugdink … Kobus Wiese sou ook daardie eerste lynstaan gewen het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.