All Blacks en Namibië jaag dieselfde wêreldrekord

Dis eintlik maar sommer speletjies, want appels word hier nie met appels vergelyk nie, maar die All Blacks en Namibië jaag albei Saterdag ʼn nuwe wêreldrekord.

En, wat meer is, dit kan gebeur dat dit Namibië is wat die rekord vroeër opstel wat dan moontlik later deur die All Blacks geëwenaar sal word.

♦ Nieu-Seeland en Namibië het albei, uiteraard teen teenstanders van uiteenlopende gehalte, in elk van hul laaste 12 toetse ten minste vier drieë in elke toets gedruk.

Die span wat die rekord hou, is geen verrassing nie: die All Blacks.

Hulle het die rekord van vier drieë in 12 agtereenvolgende toetse in 2016 opgestel en dit met die oorwinning van 69-31 oor Japan twee weke gelede geëwenaar.

Hul laaste 12 toetse, met vier of meer drieë, het op verlede jaar se jaareindtoer teen Wallis begin. Daarna het Frankryk (drie keer in Junie vanjaar), Australië (drie keer in vanjaar se Bledisloe- en Rugbykampioenskap-reeks), Suid-Afrika (twee keer), die Poemas (twee keer) en Japan almal ten minste vier drieë per wedstryd teen die All Blacks deurgelaat

Hulle het 11 van die 12 wedstryde gewen en net teen Suid-Afrika, vanjaar in Wellington, verloor (34-36).

♦ Namibië se lopie van 12 agtereenvolgende wedstryde met vier of meer drieë het verlede jaar teen Tunisië begin.

Sewe van die 12 wedstryde is in 2017 gespeel en vanjaar het hulle dit in elk van hul vyf kragmetings tot dusver ook reggekry om vier of meer drieë te druk.

Hul teenstanders in die 12 wedstryde was Tunisië, Senegal, Zimbabwe, Uganda, Kenia en Uruguay (twee keer) in 2017. En vanjaar was dit Uganda, Tunisië, Marokko, Zimbabwe en Kenia.

Dit sal egter bars gaan vir Namibië, want hulle speel Saterdag in Krasnodar teen Rusland, teen wie hulle verlede jaar verloor het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.