All Blacks glo hulle het ook ‘n Malcolm Marx

Asafo Aumua (Foto: Wellington Lions)

Die Springbokke het die wêreld se beste haker in Malcolm Marx, nou glo die Nieu-Seelanders dat hulle ook ʼn diamant ontdek het in die 20-jarige haker Asafo Aumua wat vir die Wellington Lions in die provinisiale Mitre10-reeks uitgetroon het.

Aumua, wat vanjaar in Georgië vir Nieu-Seeland se o.20-span in die Junior Wêreldtoernooi gespeel het, is een van vier nuwelinge in die All Blacks se toergroep van 37 spelers vir die komende Europese toer. Dit sluit ʼn kragmeting met die Barbarians op Twickenham, ʼn wedstryd in die middel van die week teen ʼn Franse XV in Lyon en toetse teen Frankryk, Skotland en Wallis in.

Ja, die deugde van spelers wat uitgeblink het in Nieu-Seeland se provinsiale reeks, is raakgesien en hulle is beloon.

Afgesien van Aumua, het die stut Tim Perry, die vleuel Matt Duffie en die senter Jack Goodhue ook die jawoord gekry.

Die slot Brodie Retallick is steeds nie oorweeg nie nadat sy vrou, Niki, ʼn paar weke gelede ʼn miskraam gehad het.

Die makro-vleuel Julian Savea bly steeds by die huis.

Waar het dinge vir hom verkeerd geloop nadat daar ʼn paar maande gelede nog na hom as die tweede Jonah Lomu verwys is? Dit wys jou net, hou maar die verering vir eers in die laai, daar moet baie water in die see loop voordat daar ʼn vergelyking tussen ʼn bus (Savea se bynaam) en die Lomu-stoomtrein getref kan word.

Aumua (1,77 m en 108 kg) is baie woelig en hou daarvan om met die bal rond te hardloop. Hy het ʼn goeie aftrap en herinner aan Schalk Britz, hoewel hy molliger en stewiger gebou is.

Dit sal baie interessant wees om te sien hoe die drie ander hakers, Dan Coles, Codie Taylor en Nathan Harris hom sal omarm. Daar sal baie mededinging wees en die toer is die regte leerskool vir die jongeling.

Die keuse van die 29-jarige Perry is ook ʼn verassing. Sommige stutte ontwikkel eers laat in hul loopbane, maar hy speel al jare lank, en het nog nie die wêreld aan die brand gespeel nie.

Duffie het ʼn paar jaar lank rugbyliga vir Melbourne Storm gespeel, en toe na North Harbour teruggekeer. Hy rond glo goed af, is vinnig en veilig onder die hoë bal, eie aan enige vaardige rugbyliga-agterspeler.

Die All Black-toerspan –

Voorspelers

Hakers: Asafo Aumua, Dane Coles, Nathan Harris, Codie Taylor. Stutte: Wyatt Crockett, Kane Hames, Nepo Laulala, Tim Perry, Jeffery Toomaga-Allen, Ofa Tu’ungafasi. Slotte: Scott Barrett, Luke Romano, Patrick Tuipulotu, Sam Whitelock. Losvoorspelers: Sam Cane, Vaea Fifita, Jerome Kaino, Kieran Read (kaptein), Ardie Savea, Liam Squire, Matt Todd.

Agterspelers

Skrumskakels: Tawera Kerr-Barlow, TJ Perenara, Aaron Smith. Losskakels: Beauden Barrett, Lima Sopoaga. Senters: Ryan Crotty, Jack Goodhue, Ngani Laumape, Anton Lienert-Brown, Sonny Bill Williams. Vleuels: Matt Duffie, Rieko Ioane, Waisake Naholo, Seta Tamanivalu. Heelagters: Damian McKenzie, David Havili.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Callie ·

Soos die skrywernoem, hou die verering maar eers n bietjie terug. Marx het nog n lang pad om te loop voor hy in Bismarck of John Smith se klas genoem kan word. Een goeie game maak jou nie die beste in die wereld nie

Hennie ·

Marx nog ver van wereld se beste (hy is wel baie goeie speler), hy was glad nie te sien in Saterdag se semi finaal op Nuweland nie, en hy kan nog steeds nie bal in lynstaan ingooi nie, so sak Sarel of tewel Pieter Kruger. Hoop nie jy is nog ‘n “Lion supporter wat glo alles in rooi en wit is beste in wereld”nie.

Christo Visagie ·

Dit is wat die WP en Blou Bulle mos vir dekades geglo het van hulle spelers,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,MARX BO

Lol ·

Ek stem saam met Pieter Kruger: Marx is te veel werd vir Springbok rugby om afgewaterde Curriebeker te speel. Ek blameer hom nie om lyf weg te steek nie. Genadiglik hoef hy nie in die finaal te speel nie. Hy is by verre ‘n beter speler as wat John Smit was, wat meestal net vir sy kapteinskap gekies is. Sekerlik kan almal onthou dat Sharks afrigter John Plumtree hom met tye nie gekies het nie. En John Smit het dit onthou toe hy CEO van Sharks word en Plumtree afdank- praat van egos?

Bernard ·

Malcolm Marx speel wel baie beter as enige ander haker in Suid Afrika maar wanneer hy leer om die bal by die lynstaan te kan ingooi sal dit baie beter met hom gaan. Sy ander spel is puik mar met sy lynstaan ingooie het hy die spanne waarvoor hy speel, al punte gekos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.