All Blacks-groep deel van beplanning vir Wêreldbeker-toernooi

Ai, dit is darem maar lekker om 51 spelers, oftewel 44% van die aantal spelers wat op ʼn naweek in die Superrugby-reeks uitdraf, in ʼn groep te kan kies om oorsee te gaan toetsrugby te speel.

Dit is wat die All Blacks se Steve Hansen gedoen het vir die twee toetse in Japan teen Australië (27 Oktober) in die derde Bledisloe-toets in Jokohama en die naweek daarna teen Japan in die Ajinomoto-stadion in Tokio, en vir die drie toetse teen Engeland, Ierland en Italië op die gebruiklike jaareindtoer.

ʼn Groep van 32 spelers, wat almal deel uitmaak van die toerspan vir die jaareindtoetse teen Engeland, Ierland en Italië, sal vir die twee toetse na Japan reis.

Daar is net een nuweling in hierdie uitsoekgroep van 32. Hy is die 21-jarige flank van die Blues, Dalton Papali’i, wat waarskynlik gekies is om die plek te vul van die Shannon Frizell, wat teen die Bokke beseer is.

Ná die toets teen die Wallabies sal 22 spelers die pad vat Brittanje toe om vir die toets teen Engeland voor te berei. Die ander tien van hierdie kerngroep van 32 spelers sal ná die toets teen die Wallabies agterbly vir die toets teen Japan. Hulle sal daarna weer aansluit by die groep van 22 wat reeds in Brittanje is.

Nege van die spelers in die groep van 19 wat vir die enkele wedstryd na Japan reis, het nog nie toetsrugby gespeel nie.

Hansen sê die toere na Japan, en dan na Brittanje en Italië, sal gebruik word om ʼn gevoel te kry wat in die Wêreldbeker-toernooi op hulle wag: ʼn Wegspring teen ʼn span (die Wallabies) in Japan, wat amper net so sterk soos die Bokke is, gevolg teen die wedstryde teen die Engelse en Iere, en dan Italië, wat soos Suid-Afrika in die All Blacks se Wêreldbeker-groep is.

Die All Blacks se wedstryd teen die Wallabies is boonop op die veld waar hulle hul eerste wedstryd in die Wêreldbeker-toernooi teen Suid-Afrika sal speel.

Dit sal hom ook die geleentheid gee om saam met ander ondersteuningspersoneel te werk en moontlik taktiese aanpassings aan die All Blacks se spelpatroon te maak.

Laasgenoemde is moontlik nodig ná die opdraande wat die Bokke hulle vanjaar in die Rugbykampioenskap gegee het.

Die All Blacks se groep(e) met (spelers tunder toetse in  swart gedruk) ‒

Voorspelers
Dane Coles, Codie Taylor, Nathan Harris, Joe Moody, Karl Tu’inukuafe, Owen Franks, Nepo Laulala, Ofa Tu’ungafasi, Brodie Retallick, Sam Whitelock, Scott Barrett, Patrick Tuipulotu, Ardie Savea,

Matt Todd, Dalton Papali’i, Liam Squire, Vaea Fifita, Kieran Read (kaptein).

Agterspelers
Aaron Smith, TJ Perenara, Te Toiroa Tahuriorangi, Beauden Barrett, Richie Mo’unga, Damian McKenzie, Sonny Bill Williams, Ryan Crotty, Jack Goodhue, Anton Lienert-Brown, Waisake Naholo, Rieko Ioane, Jordie Barrett, Ben Smith. 

Bykomende spelers vir toets teen Japan

Liam Coltman, Asafo Aumua, Tim Perry, Angus Ta’avao, Tyrel Lomax, Reuben O’Neill, Luke Romano, Jackson Hemopo, Gareth Evans, Dillon Hunt, Luke Whitelock, Mitchell Drummond, Bryn Hall, Brett Cameron, Ngani Laumape, Matt Proctor, David Havili, Nehe Milner-Skudder, George Bridge.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frans C ·

Dat ‘n vleuel soos Ben Lam van die Hurricanes nie plek kry nie,is ‘n verrassing.

Etienne ·

Ja ek stem, hy het seker Hansen kwaad gemaak. hy is by ver die beste op die oombelik volgens baie mense.

Frans C ·

Het ook ‘n bietjie gaan kyk na hul Maorispan wat baie bekende name insluit.Moet lekker wees om te kan kies en keur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.